Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
#FeesMustFall: Studente kry van oral steun
Ontevrede studente word weerspieël in die brillense van Gwede Mantashe, ANC-sekretaris-generaal, buite Luthuli-huis in Johannesburg Donderdagmiddag. Foto: Cornél van Heerden

Die studentebetogings het Donderdag steun uit verskeie, soms onverwagse oorde, gekry: van ouers, kantoorwerkers langs die pad, kerkleiers, hulporganisasies en meer.

Vrydagoggend vergader pres. Jacob Zuma met studenteleiers en visekanseliers by die Uniegebou oor die afgelope week se gebeure. Die studenteleiers moes egter in die media daarvan hoor.

Die betogings op kampusse was Donderdag meer bedaard, en by die Universiteite van Johannesburg en die Vrystaat het heelwat ­ouers saam met hul kinders betoog.

Witwatersrand: Daar was ’n kalmte oor die duisende studente wat singend en dansend van Luthuli-huis teruggestap het waar hulle Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, ontmoet het.

Terug by Wits het hulle op Great Hall se trappe bymekaar gekom. “Dis ’n gevoel van verligting. Ons het na Luthuli-huis toe gegaan, niks het gebeur nie en ons het reggekry wat ons wou,” het ’n student die vreemde kalmte verduidelik.

By Luthuli-huis het studente Mantashe gevra om “tot hul vlak te daal” en op die grond te sit. Hy het geweier.

Terwyl studente hul memorandum aan hom voorgelees het, het ’n randgroep geskreeu dis nie ’n politieke geleentheid nie.

Johannesburg: Die polisie het Donderdag omstreeks 17:30 met rubberkoeëls op studente in en om die Universiteit van Johannesburg se Kingsway-kampus geskiet.

Die skietery het in die straat by die Campus Square-winkelsentrum neffens die universiteit begin. Studente het die pad versper, klippe gegooi en motoriste probeer keer om verby te ry. Die polisie het met rubberkoeëls op hulle geskiet en traanrook gegooi.

Studente se ouers het vroeër die dag ook op kampus betoog.

Kaapstad: Dr. Max Price, die Universiteit van Kaapstad (UK) se visekanselier, het Donderdag om verskoning gevra vir die geweld wat die polisie Maandag en Dinsdag teen studente op die kampus gebruik het.

Nagenoeg 2 000 studente het op Jameson-plein in die bloedige middagson byeengekom om die pad vorentoe in die #Feesmustfall-veldtog te bespreek.

Price het gesê hy sal met die polisie en die vervolgingsgesag saamwerk sodat alle aanklagte teen die 23 studente wat in hegtenis geneem is, teruggetrek word. Sy seun, Ilan, was een van hulle. Die saak is tot 23 Februarie uitgestel.

Stellenbosch: 75 personeellede van verskillende fakulteite het hul solidariteit met die ­#StelliesFeesMustFall-beweging uitgespreek.

Op die kampus self was daar geen betogings nie, maar studente is per bus na die Tygerberg- mediese kampus aangery om daar teen die voorgestelde verhogings van klasgelde te betoog. Dit het egter nie heeltemal volgens plan verloop nie, want ’n klomp studente op die Tygerberg-kampus wou hulle nie met die betogings vereenselwig nie.

Bloemfontein: Baie ouer mense het hulle by die studentebetogers aangesluit.

Laatoggend het dit begin lyk asof die polisie regmaak om sake in eie hande te neem toe hulle hul versterkingsdrag aantrek en skerms uit die voertuie haal.

Die studente het op ’n tartende manier na die polisie gedans en sing en tekens gewys.

Pretoria: Die universiteitsbestuur het ’n afvaardiging van die protesterende studente ontmoet. Die universiteit het sy akademiese aktiwiteite vir die res van die week opgeskort en sy akademiese program herskeduleer.

Noordwes-Universiteit: Klasse by die Vaaldriehoekkampus van die NWU is afgestel. Die bestuur van die kampus het dosente omstreeks 09:00 gevra om die kampus te verlaat.

Sowat 1 000 studente het kort hierna by die hoofhek na die kampus bymekaar gekom. Hulle het later oproerig geraak en wou by die hek uitbreek, maar veiligheidswagte het hulle teruggedwing. Ondersteuners van die ANC en die EFF het mekaar in ’n stadium gekoggel.

Studenteraadslede het ’n memorandum aan die kampusbestuur oorhandig en is omstreeks 13:00 vreedsaam uiteen. Baie van die studente het later van die groter groep weggebreek en in die biblioteek gaan studeer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.