Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Fliek laat ‘Die pro’ ’n nuwe blaadjie omslaan
Reine Swart vertolk die rol van Viljé Maritz (“Dirkie”) se tweelingsussie, Yvette, in die fliek Die pro. Edwin van der Walt (tweede van regs) speel Dirkie se beste vriend, Tiaan, en Arno Greeff (regs) is Dustin, Tiaan se aartsvyand
Leon de Villiers, skrywer van die jeugroman Die pro.

Dit was hoog tyd dat sy boek Die pro ’n nuwerwetse baadjie aantrek, sê die skrywer Leon de Villiers.

Die première van die fliek van dié jeugroman, wat ook ’n voorgeskrewe boek in talle skole is, is die afgelope week in Fourways, Johannesburg, gehou.

“Ek is baie trots,” sê De Villiers. “Ek het die boek nog altyd as my kind gesien. Noudat dit ’n fliek is, is ek seker bevorder tot oupa.”

En dié oupa het besluit dit is tyd dat die kind van hom saam met die tye groei. “Ons het die nuwe druk van die boek aangepas om beter te pas by hedendaagse omstandighede. Biologie is byvoorbeeld nie meer ’n vak op skool nie, dis nou lewenswetenskappe. Standerd is na graad verander, selfone is ingebring. Maar daar is nie te veel aan die taal getorring nie,” sê De Villiers.

Die boek en fliek vertel die verhaal van skoolkinders en verlies. Die 17-jarige Tiaan Nothnagel (Edwin van der Walt) se kommervrye tienerlewe word tot stilstand geruk wanneer hy sy beste vriend, Dirkie Lawrence (Viljé Maritz), in ’n branderplankongeluk verloor. Hy besluit om self nooit weer branderplank te ry nie. En dan kom Dirkie se tweelingsuster, Yvette (Reine Swart), op die dorp aan en wil hê Tiaan moet haar leer branderplankry.

Van der Walt skitter in die rol van Tiaan. “Dit was vir my moeilik om te verstaan omdat ek nog nooit self iemand na aan my verloor het nie en ek wou eg oorkom. Ek dink op die ou end gaan dit nie oor watter verlies jy gely het nie, dit tref almal.

“Ek wou met my rol vir mense wys dit is oukei om dit te hanteer soos wat jy wil. Jy hoef jou nie te steur aan wat almal rondom jou sê nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.