Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Franse flair op fees
Marita en haar man stel kookboek bekend
’n Provensaalse geur maak hom op die Vryfees tuis. Marita van der Vyver en man haar man, Alain Claisse, het met ’n kosdemonstrasie hul nuwe boek, Winterkos van Provence, bekendgestel. Foto: Maradine Whitehorn
’n Provensaalse geur maak hom op die Vryfees tuis. Marita van der Vyver en haar man, Alain Claisse, het met ’n kosdemonstrasie hul nuwe boek, Winterkos van Provence, bekend gestel. Foto: Maradine Whitehorn

’n PROESELTJIE Provence.

Dít is wat ’n groep feesgangers gister op die Vryfees gevind het in slaaisop, kweper-en-heuning-hoender en c lafoutis, ’n pruimedanttert.

En met Marita van der Vyver wat uit haar nuwe boek, Winterkos van Provence, voorlees, kry dié plattelandse paradys lewe. ’n Mens sien sommer die vurige rooi herfsblare wat dwarrel en die gouewang-kwepers wat swaar aan bome hang.

Dié boek het gister sy eerste amptelike verskyning gemaak, terwyl Marita en haar man, Alain, ’n kosdemonstrasie gedoen het.

“My eerste boek was van ’n vrou wat haar kop in die oond wou druk. Nou skryf ek kookboeke,” lag Marita. “Ek was altyd bang vir kosmaak. En toe gaan staan en raak ek verlief op ’n kosmaker-Fransman.”

Met dié kookboek het Marita en Alain Franse gunstelinge vir ’n Suid-Afrikaanse gehoor toeganklik gemaak. “Ons probeer as ’n reël kos en bestanddele gebruik wat oor die wêreld heen beskikbaar is.”

Hoewel baie mense skrik as hulle aan Franse cuisine dink, is Winterkos van Provence vir enig­iemand.

“Ons wou dit só maak dat ons nie bang kokke wegjaag nie, maar ook nie ervare mense verveel nie.”

Dié kookboek volg die wêreldwye neiging om na eenvoud terug te keer.

“Franse cuisine was altyd vreeslike oordadige konkoksies met 20 000 bestanddele in die sousie. En toe skielik kry jy net blokkies jellie met drie blertsies groen goed. Die pendulum swaai nou weer, maar hy is darem êrens in die middel.

“Dit is lekker kos wat met gemak gemaak kan word.”

Om iemand te help om hul fobie vir kosmaak te oorwin en op die kleure en geure van kos verlief te raak, is wat Marita verlang.

Winterkos van Provence is propvol lag en lekkerte, met stories en foto’s wat elke Suid-Afrikaner se kombuis soos die Franse platteland kan laat voel, voordat jy nog die feesmaal proe.

Bon appétit.

• Aan die einde van dié Provensaalse ervaring is al die boeke uitverkoop. Dorothy van der Merwe-Strydom van Summerwood Country Estate het die feesmaal voorberei.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.