Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gay-huwelike is sonde, sê Angus Buchan
Angus Buchan Donderdagoggend op Vrystaat Landbou se kongres in Bloemfontein. Foto: Conrad Bornman

Huwelike tussen mense van dieselfde geslag is ’n sonde, het die evangelis Angus Buchan Donderdagoggend in Bloemfontein gesê.

Hy was ’n spreker op Vrystaat Landbou (VL) se kongres in Bloemfontein. Hierna het hy aan Netwerk24 gesê: “Ek is lief vir homoseksuele mense, ek is lief vir lesbiërs, maar ek kan nie hul lewenstyl aanvaar nie, want dit is in teenstelling met die Woord van God.”

Lees ook: ​Gaywees nie keuse, sê verslag

Volgens Buchan word hy deur baie gay mense genader wat hom vra om vir hulle te bid en te help.

Hy het egter bygevoeg dat daar nie “ ’n graad van sonde” bestaan nie.

“Sonde is sonde. Of jy nou geld van die regering steel, want jy betaal nie jou inkomstebelasting nie, jou werkers uitbuit deur hulle nie genoeg te betaal, of jou vrou verneuk en kinders misbruik . . . dit is alles sonde.”

Die grootste sonde volgens Buchan is om nie in God te glo nie.

Lees ook: Nelus Niemandt se pleidooi: Gooi NG Kerk oop vir gays

Hy het in sy optrede verwys na Zizipho Pae, adjunkvoorsitter van die studenteraad van die Universiteit van Kaapstad (UK).

Pae het ’n herrie op die kampus veroorsaak toe sy in Junie vanjaar ’n Facebook-inskrywing oor ’n beslissing van die Amerikaanse hooggeregshof oor gay-huwelike gemaak het en dit as die “institusionalisering van sonde” beskryf het.

Buchan het aan die kongresgangers gesê hy het haar gebel en gesê: “Ek is so trots op jou, my meisie . . . Jy moet bly staan. Ons staan saam met jou.”

Lees ook:

■ Spesiale verslag: Gaymense en die kerk

■ ​SR moet skorsing van lid ná gay-herrie ongeldig verklaar

Buchan het ook vir die gehoor, wat meestal Afrikaanssprekendes was, gesê hul voorvaders het van Europa na Afrika gekom vir vryheid om hul God te kan dien.

“Hulle het nie hierheen gekom om geld te maak nie, maar vir vryheid van godsdiens . . . Dit is in jul wortels, manne. Ek weet nie van ’n ander nasie in die wêreld wat wortels so diep in die Woord van God het nie.

“Hoeveel van julle begin soggens jul dag met gebed en Skriflesing? Julle voorvaders het. Elke dag. Dit is hoekom Afrikaners taai mense is. Ek weet van niemand in die wêreld wat taaier as die boer is nie.”

Lees ook: Gay-wees nié iets om te oorwin

Buchan, wat Skotse wortels het, het ook namens die Britse volk om vergifnis gevra vir die grudade wat in die Anglo-Boereoorloog teen veral vroue en kinders gepleeg is.

“As daar nie vergifnis is nie, is daar geen krag nie en is daar nie ’n weg vorentoe nie.”

Hy het later aan Netwerk24 gesê hy glo Afrikaners het al herhaaldelik om vergifnis vir apartheid gevra. “Ek glo nie daarin om voortdurend om verskoning te vra nie . . . God is nie doof nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.