Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gebruiker kry steeds g’n genade
Besnoeiing dalk enigste uitweg

VUISVOOS weens prysstygings!

Met produkte en dienste se pryse wat aanhou styg, kry verbruikers se beursies nie ’n blaaskans nie.

Volgens onlangse navorsing van Statistieke Suid-Afrika (SSA) het elektrisiteit oor drie jaar (2010-’13) met 38,9% gestyg, petrol met ’n allemintige 56,3%, opvoeding (skool- en tersiêre vlak) met 29% en siekefondsbydraes met 32,8%.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, sê dit is veral geadministreerde pryse wat die laaste tyd skerp gestyg het.

Wanneer die petrolprys styg, raak dit ook die vervoer van kos, wat weer veroorsaak dat kospryse styg.
Helen Ueckermann

“Dit is pryse wat deur een of ander owerheid vasgestel word (soos petrol, water en elektrisiteit).”

Hy sê die rede vir die prysstygings is onder meer weens die staat se onvermoë om dienste soos water en elektrisiteit te lewer, asook weens die invloed van die swakker rand.

Die jongste statistieke toon kospryse het nie onlangs buitengewoon gestyg nie.

Paul Joubert, senior ekonomiese navorser van Solidariteit, sê as daar egter na vorige jare se prysstygings gekyk word, is dit duidelik dat voedselpryse wel oor die jare baie gestyg het. Hy sê 2008 en 2011 se voedselprysstygings steek veral in verbruikers se geheue vas.

Tussen Desember 2008 en Desember 2013 het die prys van brood en papmeel met 21,8% gestyg, vleis met 29,2%, melk, eiers en kaas met 29,6%, olie en vette met 17,7%, groente met 32,3% en suiker, soetgoed en poedings met 46,5%.

Roodt waarsku stygende kospryse kan oor die volgende paar maande ’n groot probleem word.

“Dit het in Noordwes begin reën en die boere gaan nou hul kuddes begin opbou en vee terughou – so pryse styg.”

Die invloed van die swakker rand sal ook aanleiding gee tot hoër graanpryse, wat weer hoenderpryse laat klim, sê hy.

Helen Ueckermann, aanbieder van Rand en Sent op RSG, sê as pryse op een plek styg, het dit ’n sneeubal-effek wat ook na ander produkte en dienste se pryse deursyfer.

“Wanneer die petrolprys styg, raak dit ook die vervoer van kos, wat weer veroorsaak dat kospryse styg.”

Sy sê later word alles duurder, terwyl salarisse nie daarmee rekening hou nie.

Merina Willemse, ekonoom van die Efficient-groep, sê in 2010 het die gemiddelde loon met 13,5% gestyg, in 2011 met 7,2% en 2012 met 7,3%. Die volledige syfers vir 2013 is nog nie beskikbaar nie.

In die Vrystaat en Noord-Kaap het die koste om huise te huur tussen Desember 2010 en Desember 2013 onderskeidelik met 20,8% en 23,0% gestyg.

Joubert sê telekommunikasie is byna die enigste dienste waarvan die pryse oor die jare gedaal het.

“Dit behoort geen verrassing te wees nie. Ons almal weet hoeveel goedkoper oproepe, SMS’e en data geword het.”

Ueckermann se raad aan verbruikers is om in die swaar tye op die koop van produkte en die gebruik van dienste te besnoei.

“Skakel onnodige ligte af, sit jou geiser af wanneer jy dit nie gebruik nie, beplan jou roetes na die dokter en winkelsentrum en gebruik saamrygeleenthede.”

Joubert sê ’n mens moet ook nie huiwer om alternatiewe produkte, wat goedkoper is, maar steeds van gehalte is, op die proef te stel nie.

Volgens Roodt kan daar moontlik nog een of twee brandstofprysstygings oor die volgende paar maande verwag word, “maar teen die einde van die jaar (of reeds vroeër) behoort die rand te stabiliseer en selfs te versterk”.

Brandstofpryse behoort daarmee saam te stabiliseer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.