Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geen rekord oor vuurwapens van voormalige tuislande
Foto ter illustrasie: iSTock

Daar is geen rekord oor wie die honderdduisende vuurwapens wat destyds in die voormalige tuislande gelisensieer is, besit of waar die wapens nou is nie.

Die skokkende inligting is Dinsdagoggend in Pretoria onthul toe lede van die portefeuljekomitee die Sentrale Vuurwapenregister (SVR) in die hoofstad besoek het.

Komiteelede het gehoor daar is twee datastelsels met inligting oor wie vuurwapens in die land besit, maar dat dit nie met mekaar verbind is nie.

Francois Beukman, voorsitter van die portefeulje-komitee, het die situasie as onaanvaarbaar beskryf “veral in die lig van geweldsmisdade in Suid-Afrika wat al hoe meer met vuurwapens uitgevoer word”.

“Ons kan nie 'n situasie toelaat waar misdaad met wettige en onwettige vuurwapens buite beheer raak nie. Vuurwapens van die voormalige tuislande moet op die sentrale stelsel kom. Dit is na 20 jaar onaanvaarbaar. Ons moet weet wie die eienaars van vuurwapens in die land is.

“Ons benodig vinnig tegnologie om te verseker dat ons een en 'n korrupsievrye stelsel vir alle vuurwapens in die land het,” het hy gesê.

Dit was net een van verskeie skokke wat aan die die LP’s onthul is oor die chaos waarin die SVR, waardeur alle aansoeke vir vuurwapenlisensies moet gaan, gedompel is.

Genl.maj. Bransby Luke, SVR-bevelvoerder, en sy provinsiale verteenwoordigers het onder meer ook aan komiteelede onthul hoe:

■ 'n personeeltekort hul funksionering inperk en verhoed dat personeel op verlof kan gaan uit vrees vir agterstande wat te groot kan raak;

■ probleme met die liasseringstelsel wat veroorsaak dat derduisende aansoeke vir vuurwapens landwyd of verlore raak of in stapels in gange by die SVR-gebou in Pretoria stof vergader;

■ die stelsel toelaat dat dieselfde vuurwapen in al nege provinsies gelisensieer kan word;

■ daar vir tot soveel as agt verskillende polisiestreke net een voertuig beskikbaar is; en

■ skuiwergate in huidige vuurwapenwetgewing dit moontlik maak vir een persoon om tot 120 vuurwapens te kan besit.

Verder ontlas en urineer boemelaars en daklose mense ook reg voor die SVR-hoofkantoor, wat dit vreeslik laat stink.

Die komitee het belowe om onmiddellik aanbevelings te maak wat die chaos by die SVR kan regruk.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.