Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gegis oor straf vir seun
Sielkundige verslae kan invloed hê
Die seun is tans in aanhouding hangende die voorvonnisverhoor en vonnisoplegging. Foto: emile hendricks

KIMBERLEY. – ’n Dag voor die begin van die tweede deel van die minderjarige moordenaar en verkragter in die Griekwastad-treurspel se voorvonnisverhoor, word daar gegis oor wat die sielkundige verslae sal openbaar en die straf wat die seun kan verwag.

Die seun is in Maart skuldig bevind op vyf aanklagte van moord, verkragting en regsverydeling ná die moorde op Deon (43) en Christel Steenkamp (43) en hul dogter, Marthella (14), twee jaar gelede naby Griekwastad.

Twee weke gelede het die seun se regspan en voog juis moeite gedoen om te probeer bewys dat die seun nie so onemosioneel en onbetrokke is soos wat die staat voorhou nie. Gissings het ontstaan of dié onbetrokkenheid dalk tekens van óf antisosiale persoonlikheidsversteuring óf psigopatie is.

Sy persoonlikheidsverandering van bot en stil tot selfvoldaan en selfs arrogant ná die moorde is volgens sy voog ’n noodwendige gevolg van ’n uiters traumatiese gebeurtenis.

Die minderjarige sal ingevolge die nuwe Kindergeregtigheidswet nie lewenslange tronkstraf kry nie. Verskillende vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Volgens maatskaplike werkers wat reeds getuig het, kan die seun nie gerehabiliteer word as hy nie die misdade erken nie. Die vraag ontstaan of hy dan ’n moontlike gevaar vir die samelewing kan wees wanneer hy eendag vrygelaat word.

Die staat en verdediging het getuienis ter strafversagting en strafverswaring aangebied. Die maatskaplike werkers, korrektiewedienste- en Nimro-beamptes het tronkstraf aanbeveel. Riaan Bode, die seun se prokureur, gaan dr. Eon Sonnekus, ’n jeugkriminoloog, ook as getuie roep.

Staatsadvokaat Hannes Cloete het aangedui hy gaan getuienis oor die seun se “sjarmante en manipulerende persoonliksheidstipe” aanbied.

Die seun is nie tot dusver met enige soort persoonlikheid- of gedragsversteuring soos skisofrenie of psigopatie gediagnoseer nie.

Volgens prof. Dap Louw, forensiese sielkundige en buitengewone professor in die departement sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), verskil psigopatie van antisosiale persoonlikheidsversteuring. Psigopatie fokus meer op persoonlikheidseienskappe. Die antisosiale persoonlikheidsversteuring is ’n breër begrip wat primêr fokus op meetbare gedrag, soos hoeveel keer die misdadiger oortree het en sedert watter ouderdom. Die antisosiale persoonlikheidsversteuring kan ook nie voor die ouderdom van 18 gediagnoseer word nie. Voor 18 word daar eerder van gedragsversteuring gepraat, onder meer om stigmatisering te vermy.

Volgens Louw word psigopatie dikwels as verswarende, eerder as versagtende omstandighede, aanvaar. Psigopatie is nie dieselfde as psigiese versteurings soos skisofrenie en bipolêre gemoedsversteuring waar die persoon kontak met die werklikheid verloor nie.

Hoewel psigopatie ’n psigiese versteuring is, tas dit nie die persoon se toerekeningsvatbaarheid (juridiese aanspreeklikheid) aan nie, net soos in die geval van sekere ander psigiese versteurings soos eetversteurings, nikotienverslawing en disleksie. Beskuldigdes met psigopatie sal dus nie na ’n psigiatriese hospitaal verwys word of vrygespreek word nie.

Cloete, wat nog sielkundige getuienis moet aanbied, het reeds sy verontwaardiging uitgespreek dat die seun se regspan, voog en ’n kriminoloog aangedring het om teenwoordig te wees toe die staatsielkundige die seun wou evalueer. Cloete het vroeër ook verwys na ’n ander evaluering van die seun. Dit is meer as ’n jaar gelede deur ’n ander sielkundige in opdrag van die seun se vorige regspan gedoen. ’n Moontlike verslag wat dié sielkundige sou saamgestel het ná die dae lange waarneming en toetse, is nie deur die seun se huidige regspan beskikbaar gemaak nie.

Louw sê ’n sielkundige evaluasie is ’n vertroulike gesprek wat net tussen die deskundige en die kliënt kan plaasvind. As ander mense teenwoordig is, kan die betroubaarheid van so ’n gesprek in twyfel getrek word. Die sielkundige verslag oor die seun is uiters belangrik in die vonnisoplegging. Dit gee ’n waardevolle aanduiding oor of die seun rehabiliteerbaar is en of hy ’n gevaar vir die gemeenskap inhou.

Die verhoor is vir vier dae van môre tot Vrydag op die hofrol geplaas. Na verwagting sal die seun appèl aanteken ná die vonnisoplegging.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.