Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Genl. Jannie Geldenhuys se liefdesoorlog
Familie vra vriendin van 16 j. om ‘grasieus’ weg te gaan
Genl. Jannie Geldenhuys en sy vriendin Katie Sweeney op sy 80ste verjaarsdag.
Genl. Jannie Geldenhuys in 1988.
Geldenhuys is steeds getroud met sy vrou, Marié.

’n Liefdesoorlog woed tussen genl. Jannie Geldenhuys se “sielsgenoot” en sy familie noudat dié getroude man weens alzheimersiekte nie meer selfstandig is nie.

Geldenhuys (80) se familie het Katie Sweeney (57), ’n jarelange familievriendin, per e-pos ingelig dat sy nou “grasieus” hul lewe moet verlaat.

Daar was verlede maand ook ’n poging om ’n ooreenkoms te bereik waarvolgens Geldenhuys elke Woensdag en Saterdag sy vriendin sou kon sien onder streng voorwaardes. Dit sluit in dat Geldenhuys voor donker by die huis moet wees en Sweeney nie met die Geldenhuys-familie se besluite oor mediese behandeling en finansies mag inmeng nie.

Sweeney het dié aanbod van die hand gewys omdat sy meen dis onredelik beperkend. Dié vermoënde vrou neem veral aanstoot oor wat sy sien as ’n insinuasie in die voorgestelde ooreenkoms dat sy vir geldelike gewin by hom betrokke wil wees.

Sy is meer as bereid en in staat om vir hom te sorg sonder belange in die Geldenhuys-finansies, het sy aan Rapport gesê in haar huis in Midrand.

“Ek wil net weet hy is oukei. Ek wil net weer hê hy moet hier in die stoel sit en gesels. Ek wil hom bystaan tot aan die einde. Dis wreed om hom te laat dink ek het hom versaak,” sê sy.

Geldenhuys se dogter, Annamarié, sê egter in ’n e-pos aan Sweeney: “Ons is sy familie. Hy hoort by ons.”

Sweeney het saam met Geldenhuys, wat tussen 1985 en 1990 die weermaghoof was, gewerk om sy vier boeke oor die Grensoorlog en weermagverhale te publiseer.

Ek het vir hom gesê: Jy is ’n generaal. Sit jou voet neer!

Hulle ken mekaar al 16 jaar lank en volgens haar het daar deur die jare ’n romantiese verhouding ontwikkel.

Hy is egter steeds getroud met sy vrou, Marié (80), en bly saam met haar en sy twee volwasse kinders in die gesin se huis in Waterkloof, Pretoria.

Maar oor naweke en vroeër, toe Geldenhuys en Sweeney nog aan die boeke gewerk het, het die generaal selfs “maande aaneen” by Sweeney in haar huis gebly. Dié situasie het meer as ’n dekade lank voortgeduur, oënskynlik met die Geldenhuys-familie se medewete. Sy dogter en vrou het so onlangs soos verlede jaar in korrespondensie Sweeney bedank vir haar versorging van die patriarg.

Die rus en vrede is egter sowat drie maande gelede versteur toe Sweeney te betrokke geraak het by die Geldenhuys-familie se sake.

Sweeney sê aan Rapport Geldenhuys was ontsteld oor ’n belegging wat sy familie wou laat uitkeer. Sweeney het hom na Absa vergesel waar hy die transaksie gekeer het.

Toe was die gort gaar, sê Sweeney.

Annamarié het vanaf haar pa se e-posadres ’n boodskap gestuur dat Sweeney hom nie meer soos gewoonlik moet kom oplaai nie.

Volgens Sweeney het Geldenhuys vir haar gesê sy moet die versoek ignoreer, maar sy kon hom skielik nie meer op sy selfoon of huisnommer bereik nie.

Sy het ook by sy vriende en oudkollegas begin navraag doen. Ook hulle kon hom glo nie meer bereik nie.

Geldenhuys het ’n paar weke gelede daarin geslaag om haar te bel van ’n onbekende nommer. In ’n opname van die gesprek, waarna Rapport geluister het, maak hy dit duidelik dat hy haar nog wil sien.

Sweeney sê sy het nooit van Geldenhuys verwag om sy familie vir haar te los nie. Sy het wel soms gefrustreerd geraak oor hoe hy behandel is.

“Ek het vir hom gesê: Jy is ’n generaal. Sit jou voet neer!”

Sweeney en die familie het ook vanjaar begin vassit oor sy mediese behandeling. Sweeney meen die kombinasie van medikasie wat hy gebruik, dra tot sy geheueprobleme by.

Konrad Röntgen snr., ’n prokureur van Pretoria, sê Geldenhuys en Sweeney het hom kom spreek en Geldenhuys het uit sy eie kommer uitgespreek oor die medikasie wat hy gebruik. Röntgen het hom aangeraai om eers ’n neuroloog te gaan sien vir ’n tweede opinie.

“Die neuroloog het die opinie gehuldig dat die kombinasie van medikasie onvanpas is.”

Röntgen sê Geldenhuys sou hom later weer kom spreek om hul regsopsies te oorweeg, maar hy kon sedertdien nie vir Geldenhuys in die hande kry nie.

Die familie benadruk in hul korrespondensie met Sweeney dat hulle hom goed versorg en net die beste vir hom wil hê.

In die voorgestelde ooreenkoms waarvolgens Sweeney en Geldenhuys mekaar sou kon sien, sê Annamarié die “situasie” het haar familie die afgelope dekade groot pyn veroorsaak.

Dit maak my egter woedend dat ’n man wat so graag gesels en geredeneer het, nou van alles en almal afgesluit word.

“Die familie dink steeds die situasie is eties en moreel verkeerd.”

’n Generaal wat jare lank saam met Geldenhuys gewerk het, sê aan Rapport hy meen Sweeney het “minstens ’n morele reg” om hom te sien “al het sy dan regtens geen sê oor wat sy familie met hom maak nie”.

Hy dink dis verkeerd om Geldenhuys af te sny van die mense na aan hom.

“Geen van die telefoonnommers waarop ek hom jare lank gekontak het, werk meer nie en my e-posse is onbeantwoord. Dit is baie vreemd dat al die nommers toevallig verander of afgesny is.

“Wat Katie betref, het die familie die vriendskap jare lank toegelaat en dit is tog so duidelik soos daglig dat daar ’n spe­siale band tussen hulle is. Hulle het boeke saam geskryf en het baie gemeenskaplike belangstellings.”

Hy sê talle van hom en Geldenhuys se gemeenskaplike kennisse is ewe ongemaklik met wat nou gebeur, maar uit re­spek vir Geldenhuys meng hulle nie in nie.

“Dit maak my egter woedend dat ’n man wat so graag gesels en geredeneer het, nou van alles en almal afgesluit word.”

Chris Turner, wat oor van sy belewenisse in die Slag van Cuito Cuanavale vir Geldenhuys se boek geskryf het, het die afgelope week gesê dit was op Vadersdag in Junie vanjaar duidelik dat Geldenhuys se geheue nie meer goed is nie.

“Ek was die afgelope paar jaar by verskeie geleenthede saam met hom op besoeke en voorlesings oor die boek en hy was steeds vir my die vaderfiguur wat hy destyds was toe ek ’n dienspligtige in die Grensoorlog was.

“Toe ek hom op Vadersdag bel, het hy nie meer geweet wie ek is nie. Ek het hom eenkeer by Katie Sweeney se huis ontmoet en ek het geweet hy het ’n besonderse deernis vir haar gehad.

“ ’n Mens sou wou hê dat hy nou in sy brose toestand minstens nie van haar of enige van sy ander vriende geïsoleer word nie, sodat hy met rustigheid sy laaste jare kan geniet.”

Dit is reeds twee jaar lank ’n ope geheim dat Geldenhuys se gesondheid versleg. By geleenthede waar hy as spreker opgetree het, het dit selfs ’n verleentheid geraak omdat hy soms deurmekaar was en homself herhaal het.

By een kranslegging het hy aan die slaap geraak, en kon hy nie sy krans lê nie.

Sy familie het toe versoek dat hy nie meer na openbare geleenthede genooi word nie om hom enige verdere verleentheid te spaar.

“Wanneer hy as spreker opgetree het, het hy gedurig by die Slag van Cuito Cuanavale vasgehaak (een van die mees omstrede veldslae aan die einde van die Grensoorlog) en hy moes letterlik stilgemaak word, anders het hy ure lank aanmekaar dieselfde argumente herhaal,” het ’n oudgeneraal en -kollega van Geldenhuys gesê.

Volgens dié oudmakker kan hy verstaan dat Geldenhuys se familie hom teen uitbuiting of verdere verleentheid uit die kollig verwyder het.

“Dit bly hartseer. Ek glo ook steeds dat posttraumatiese stres oudsoldate op ’n verskeidenheid maniere aangetas het.”

 Die Geldenhuys-gesin het sy eie traumatiese verlies kort ná die einde van die Grensoorlog gehad. Hul seun maj. Harper Martin Geldenhuys (26) is in 1991 in ’n fratsongeluk by Pomfret in Noordwes dood toe hy getref is deur ’n Dakota-vliegtuig wat besig was om op te styg.

Hy was aan die voormalige 32 Bataljon verbonde en was besig om ’n video-opname van ’n militêre oefening te maak toe die vliegtuig hom tref.

 Annamarié Geldenhuys het by navraag gesê die familie het besluit om geen kommentaar te lewer nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.