Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
George-hospitaal kry nuwe lasertoerusting
Dr. Nicolaas Stempels (links) maak gereed vir Erica September se ondersoek. Foto: verskaf

GEORGE. – Oogtoerusting van R460 000 is onlangs vir die George-hospitaal aangekoop om laserbehandeling te vergemaklik.

Die toerusting is deur die Wes-Kaapse regering verskaf.

Die laserbehandeling word onder meer gebruik vir pasiënte wat aan diabetiese retinopatie ly.

Met die nuwe lasertoerusting kan die hele retina (binneste derde van die oogbol) gelyktydig behandel word, en binne ’n enkele sessie van tien minute, het Nadia Ferreira, woordvoerder van die departement van gesondheid, ­gesê.

“Sessies het vroeër ’n halfuur geduur en was baie pynlik.

“Pasiënte moes dikwels ’n inspuiting in die oog kry om die pyn te verdoof.”

Meer as een sessie was ook vroeër nodig om dieselfde resultate te kry.

Volgens Ferreira kan meer pasiënte ook nou behandeling ontvang.

Pasiënte wat aan diabetiese retinopatie ly, ondervind ’n vermindering van suurstof na die retina van die oog. As gevolg hiervan ontwikkel die retina nuwe bloedvate op die oppervlak van die oog.

Hierdie bloedvate is baie teer en kan maklik skeur en bloei. Dit kan veroorsaak dat die retina los raak, wat tot permanente blindheid kan lei.

Erica September, ’n diabeet wat aan retinopatie ly, het ná haar behandeling met die nuwe lasertoerusting gesê dat die pyn “hanteerbaar” was.

Sy was verlig dat sy nie weer ’n inspuiting in haar oog moes kry nie.

Volgens Theuns Botha, Wes-Kaapse minister van gesondheid, word R38 miljoen van die provinsiale begroting vir gesondheid aan oogsorg bestee.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.