Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘1 000’e besef nie hulle is siek’

Daar is reeds meer as 9 000 mense in Suid-Afrika wat Covid-19 onder lede het, maar die meeste van hulle is onbewus daarvan dat hulle siek is, sê ’n aktuaris en strateeg van een van die land se grootste lewensversekeraars.

Dit is nege keer meer as die amptelike syfer wat Vrydagaand deur die regering uitgereik is.

Rowan Burger, wat wiskundige vooruitskattings vir Momentum Investments doen, sê hierdie mense kan steeds in hul gemeenskappe rondgaan en ander aansteek.

Die groot risiko is die digbevolkte stedelike gebiede.

“Dit is waarom die aantal Covid-gevalle elke drie dae verdubbel en waarom streng inperkings nodig is,” sê hy.

Volgens sy ramings kan tot 200 000 mense – sowat 0,33% van die bevolking – in Suid-Afrika sterf as mense normaal met hul lewens kon aangaan sonder die streng inperkings.

Burger sê as die besmettingskoers uiteindelik tot 60% van die bevolking styg – ’n voorspelling wat vroeër deur die minister van gesondheid gemaak is – wys die suiwer wiskundige berekeninge dat die land, met sy sowat 60 miljoen mense, uiteindelik met 36 miljoen siekes sal sit.

Teen ’n geraamde sterftekoers van 2% beteken dit 720 000 sterftes.

Volgens Burger is ’n 60%-koers egter hoogs onwaarskynlik omdat mense – selfs sonder die regering se ingryping – sal besef dis ’n krisis en hulself begin isoleer en hul gedrag verander. Daarom sy veel laer skatting van ’n dodetal van 200 000.

In ’n aanbieding aan pres. Cyril Ramaphosa dié week voordat die inperking aangekondig is, het dr. Olive Shisana, een van Ramaphosa se gesondheidsraadgewers, gesê sonder ingrypings kan die land binne weke 1 miljoen Covid-19-gevalle hê.

Die groot risiko in Suid-Afrika is die digbevolkte stedelike gebiede en die feit dat ons nie ’n gesonde bevolking het nie. Baie mense word nie vir MIV behandel nie, het tuberkulose, hoë bloeddruk of diabetes. Hul risiko is groter, sê Burger.

Tussen 15% en 20% van siek mense het hospitaalsorg nodig. Dit behels ons het ’n bykomende 60 000 hospitaalbeddens nodig, waarvan sowat 10 000 beddens in die waakeenheid moet wees. Teen ’n sterftekoers van 1% of 2% kan dit neerkom op meer as 8 000 sterftes in die komende maande (as ons ’n hoër sterftekoers aanvaar).

Rapport het verlede week berig ’n 2017-studie van die Universiteit van Kaapstad stel die hospitaalbeddens in die land op 102 000.

Patricia de Lille, die minister van openbare werke en infrastruktuur, het die afgelope week gesê 16 000 bykomende beddens is reeds geïdentifiseer as potensiële kwarantyngeriewe. Dit sluit hotelle, vakansieplekke en staatsgeboue in.

Burger sê die syfers is nié rede tot paniek nie, want dis duidelik die regering verstaan die syfers en weet wat gedoen moet word om die besmettingskoers in bedwang te bring.

“Ramaphosa benader dit nou soos ’n sakeman. Hy neem die regte besluite en reageer streng, want dit is kritiek dat ons lewens red.”

Hy meen dit is ook positief dat baie van die mense wat reeds siek geword het nie kritieke noodgevalle is nie. Dit kan weens die warmer weer in die Suidelike Halfrond wees en omdat Suid-Afrika nog nie in sy wintergriepseisoen is nie.

Indien die huidige maatreëls nie suksesvol is nie, sal die regering dalk in Junie en Julie weer beperkings op bewegingsvryheid moet instel wanneer die griepseisoen op ons is. Die hoop is dat daar teen daardie tyd beter behandeling of selfs ’n entstof teen die virus beskikbaar sal wees, sê hy.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër gesê dit sal minstens twee weke ná die begin van die inperking duur voordat Suid-Afrika ’n afname in nuwe gevalle kan sien.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Coronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.