Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1 400 per dag, dalk meer by Old Mutual ingeënt

Daar word voortaan 1 400 mense per dag by ’n private inentingsentrum op die Old Mutual-perseel in Pinelands, Kaapstad, teen die koronavirus ingeënt.

’n Verpleegster wys vir ’n pasiënt na watter stasie hulle moet kom vir die inenting. Foto: Jaco Marais

Die sentrum is oop vir enige Suid-Afrikaner wat geregistreer is in die land se elektroniese inentingstelsel en kennis gekry het om daar aan te meld.

Old Mutual werk saam met die private hospitaalgroep Netcare om die inentingsentrum te open in samewerking met die Wes-Kaapse departement van gesondheid.

Die sentrum se aanvanklike vermoë sal sowat 1 400 inentings per dag wees, maar sal na verwagting tot 3 000 per dag verhoog word.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het die sentrum Maandag geopen. “Met die aanvang van die massa-inentingsprogram in Mei het die Wes-Kaapse regering hom daartoe verbind om almal die geleentheid bied om ingeënt te word.

“Ons doen dit deur persele in die metro en provinsie te open, asook om privaat persele te help in werking te stel. Ons is ook besig om inwoners in ouetehuise en bedlêende burgers by hul huise in te ent,” sê Winde.

“Verlede Donderdag het ons 49 140 entstowwe ontvang wat die week gebruik sal word. Ons mikpunt vir die week is om 50 000 inentings toe te dien. ”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Maandag by die opening van die sentrum. Foto: Jaco Marais

Richard Friedland, uitvoerende hoof van Netcare, sê: “Netcare is verheug om saam met Old Mutual te werk en ons opgeleide en ervare gesondheidsorgpersoneel vir hierdie doel beskikbaar te stel.

“Die samewerking met Old Mutual sal help om die inentingsprogram te bespoedig, wat die belangrikste stap is om die verspreiding van die koronavirus te beperk.

“Van die begin van die inwerkingtreding van die inentingsprogram af was die verpleegsters, aptekers, paramedici en administratiewe personeel van Netcare hard aan die werk op ons eie inentingsentrums, asook om by die openbare sektor te help,” sê Friedland.

Die inentingsperseel in Pinelands het ook ’n kiosk waar vrywilligers ander mense wat nog nie kon registreer nie, kan help om dit te doen.

Hierdie vrywilligers behoort tot uitreikprogramme wat deur Old Mutual ondersteun word.

Winde sê oor die afgelope vyf weke is altesaam 205 inentingspersele in die Wes-Kaap geopen, waarvan 65 aktiewe openbare persele in die Kaapstad-metro, 107 aktiewe persele in die openbare sektor in die landelike distrikte en 33 aktiewe persele in die private sektor.

“Ons is gereed om die getal entstowwe wat toegedien word te vermeerder as ons bykomende entstowwe kry,” sê Winde.

Iain Williamson, uitvoerende hoof van Old Mutual, sê dit is belangrik om gehoor te gee aan die oproep van die regering om die inlooprye te vermy en eerder op die aanlyn stelsel te registreer en te wag op ’n afspraak.

“Dit sal die gesondheidsowerhede in staat stel om entstowwe doeltreffender te versprei, wat uiteindelik die implementeringsprogram van die land sal bespoedig,” sê hy.

Meer oor:  Pinelands  |  Kaapstad  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Wes-Kaap  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.