Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
10-jarige Lienka sterf ná jaar lange kankerstryd
Lienka by die see.Foto: Facebook/Lienka Louw

“Liewe Jesus en die hemel het vandag die mooiste engel ryker geword,” het Lienka Louw (10) se ouers Donderdag op Facebook geskryf nadat hul jongste ná ’n jaar lange kankerstryd dood is.

Lienka sou vanjaar in graad vyf aan die Laerskool Mikro in Kuilsrivier gewees het.

“Lienka-pop, ons gaan jou vreeslik mis. Jy kan nou rondhardloop, visvang en hokkie speel sonder pyn.”

Breinstamkanker is vroeg verlede jaar by haar gediagnoseer. Op ’n Facebook-blad vir haar sê haar ouers sy het in Januarie verlede jaar in ’n restaurant se speelgebied geval en hulle het vermoed sy het harsingskudding gehad. Haar simptome het egter nie verbeter nie en ’n breinskandering is gedoen, wat ’n gewas uitgewys het.

Talle fondsinsamelings is gehou om haar ouers, Jean en Relene, met die koste van behandeling te help. Lienka het ook ’n ouer sussie, Anke, wat vanjaar in graad sewe is. Lienka het in Mei verlede jaar, op negejarige ouderdom, met bestraling begin.

In Junie het dit goed gegaan met haar en haar ouers het op Facebook gesê dokters was baie tevrede met haar vordering en haar reaksie op die bestraling.

Lienka LouwFoto: Facebook/Lienka Louw

’n Maand later het Lienka saam met haar klasmaats haar eerste netbalwedstryd gespeel nadat sy terug is skool toe. “Sy is ’n ware wenner en vegtertjie,” het haar ouers toe op Facebook gesê.

Later in Julie het haar ouers gesê hulle was by die Groote Schuur-hospitaal vir ’n opvolgondersoek “met ’n hele paneel slim dokters”.

“Die dokters is baie tevrede. Ons gaan nou elke drie maande vir ’n opvolg, wisselend tussen Groote Schuur en die Rondebosch Mediese Sentrum. As daar iets fout is, kan ons die dokters kontak, maar ons glo en vertrou dit sal nie nodig wees nie.”

Die dokters het ook gesê dit is veilig vir Lienka om weer hokkie te speel en op 1 Augustus was sy weer op die veld.

Net ’n paar dae later, op 15 Augustus, moes die gesin weer onbepland by ’n onkoloog uitkom omdat Lienka dubbeld gesien het. Toetse het gewys die gewas het nie gegroei nie, so die simptoom was weens bestralingskade. In November het haar ouers op Facebook geskryf Lienka sukkel steeds met dubbelvisie.

“Die afgelope tyd is haar balans en spraak nie lekker nie. Deur dit alles kla ons superhero nie vir ’n oomblik nie. Ons was vanmiddag vir ’n opvolg by die onkoloog. In hierdie stadium is sy nog tevrede met Lienka se situasie. Ons het die groen lig gekry vir vakansie hou en ons sal heel moontlik ’n skandering doen net voor die skool begin in 2020,” het hulle toe geskryf.

“Vir nou begin die eksamen en ons hou net aan bid vir hierdie klein vegtertjie.”

Op 12 Desember het haar ouers op Facebook geskryf Lienka se toestand het baie versleg.

“Sy kan nie meer loop of praat of eet nie. Sy het vanoggend slym begin opgooi en sukkel om asem te kry. Sy is op suurstof en ’n drup en is nou rustig. Ons wag nou vir die MRI-skandering.”

’n Dag later het die gesin dié nuus gekry: Lienka se gewas het baie gegroei en daar is vog op haar brein.

Lienka geniet ’n waatlemoen.Foto: Facebook/Lienka Louw

“Sy kan nie meer bestraling kry nie en hulle kan ook nie haar brein dreineer nie, want sy sal nie die narkose oorleef nie,” het haar ouers op Facebook geskryf.

“Sy kry van tyd tot tyd stuipe. Hulle gee nou medikasie daarvoor en sy kry voeding deur haar neus. Lienka Plienka liefielyfie, Pappa se hokkiebokkie en hengelaar, word nou net so gemaklik moontlik gemaak. Dis al wat hulle vir haar kan doen.”

Die gesin se Kersfees het vroeër gekom toe Lienka op 21 Desember ontslaan is.

“Mamma is nou die verpleegster en dokter en Pappa en Ousus die goeie assistente. Nou maak ons die beste van Kersfees!”

Lienka kon Kersfees by die huis vier, maar moes op 10 Januarie weer hospitaal toe gehaas word. Lienka het gesukkel om asem te haal. Sy is gestabiliseer en suurstof gegee. Vier dae later is sy ontslaan.

“Lienka word vandag ontslaan. Sy is egter basies in ’n koma, maar sy lyk rustig en pynloos. Ons sal nog voortgaan met haar medikasie en versorging by die huis, tot daar weer iets is wat verander,” het haar ouers geskryf.

Toe kom die nuus oor haar dood enkele dae later.

“Ons vra dat julle asseblief net die familie se privaatheid respekteer in hierdie rouproses,” vra die gesin in hul Facebookplasing.

Lienka op Kersdag by die huis.Foto: Facebook/Lienka Louw

“Ek is so jammer oor jul verlies,” sê een persoon op Facebook. “ ’n Pragtige dogtertjie dans nou sonder einas langs Jesus. Mag sy vertroostende arms julle styf teen Hom druk in die moeilike tyd.”

“Lienka, ons gaan jou mis. Ons sterretjie op die hokkieveld – die een wat selde nee gevat het vir ’n antwoord,” skryf nog iemand. “Ons weet jy gaan die engele op hul tone hou, nes jy al jou maats en onderwysers op hul tone gehou het.”

Lienka se gedenkdiens vind Donderdag om 16:00 plaas by die NG kerk De Eike, Kuilsrivier.

Meer oor:  Lienka Louw  |  Breinstamkanker  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.