Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
10-ling: ‘Laat ma dan klag indien oor beweerde mishandeling’

Die departement van gesondheid is “ontsteld en baie teleurgesteld” oor aantygings deur Independent Media teen die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, “een van ons beste hospitale in die land”.

IOL hou voet by stuk dat ’n Gautengse ma, Gosiame Sithole, verlede week in dié staatshospitaal ’n tienling gehad het en vra dat amptenare “antwoorde gee” oor die kwessie.

Gegewe die omvang van die aantygings, nooi ons Independent Media, wat daarop sinspeel dat gesondheidswerkers en die regering verkeerd opgetree het, om me. Sithole te help om ’n klag by die gesondheidsombudsman in te dien.

“Ons neem die aantygings teen staatsamptenare en gesondheidswerkers baie ernstig op. Ons voorlopige ondersoek het weer bevestig dat daar geen tienling in die Steve Biko-hospitaal was nie,” sê Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, in ’n verklaring.

Hy sê ook daar is geen manier dat die tien babas in die Tshwane-distrikshospitaal gebore is nie omdat dié hospitaal nie die geboorte van meerlinge kan hanteer nie.

“Klinici by die twee hospitale het ook bevestig dat daar geen rekord is van die geboorte van die tienling in enige van die gesondheidsinstellings in Gauteng nie. Dit is nie duidelik waar die babas gebore sou wees nie,” sê Maja.

“Gegewe die omvang van die aantygings, nooi ons Independent Media, wat daarop sinspeel dat gesondheidswerkers en die regering verkeerd opgetree het, om me. Sithole te help om ’n klag by die gesondheidsombudsman in te dien weens die beweerde mishandeling van die pasiënt by enige gesondheidsinstelling.

“Die beweerde ‘sameswering’ en ‘toesmeerdery’ van gesondheidsowerhede blyk ’n joernalistieke fout te wees. Dit kan nie wees dat tien of agt babas gebore word en daar geen bewyse kan wees van hul bestaan of waar hulle is nie.”

Klinici by die twee hospitale het ook bevestig dat daar geen rekord is van die geboorte van die tienling in enige van die gesondheidsinstellings in Gauteng nie.

Luidens die eerste “eksklusiewe berig” op Dinsdag 8 Junie deur Piet Rampedi, redakteur van IOL se Pretoria News, het Sithole op 7 Junie sewe seuntjies en drie dogtertjies gehad.

In ’n verklaring wat Woensdagaand op IOL se webblad uitgereik is, word aangevoer dié inligting word “deur verskeie onafhanklike bronne, asook personeel van die (Steve Biko-)hospitaal”, bevestig.

Verder voer hulle aan die Gautengse gesondheidsdepartement is besig met ’n enorme toesmeerdery.

As die wetstoepassingsowerhede dit versoek, sal die groep al sy bewyse en getuies oorhandig, sê hy.

Geen rekord van polisie-aanhouding

Intussen is daar geen rekord dat die ma van die sogenaamde Tembisa-tienling Donderdag by ’n polisiekantoor in Gauteng aangehou is nie.

Daar is berig dat die polisielede die vrou aangehou het en glo geweier het dat haar prokureur toegang tot haar kry of met haar praat.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder in Gauteng, het Vrydag aan Netwerk24 gesê daar is geen rekord dat Sithole by ’n polisiekantoor aangehou is nie.

IOL het Donderdag berig die ma is glo by die Chloorkop-polisiekantoor aangehou nadat sy minstens 6 km verder by iemand se huis in Rabie Ridge in Midrand was.

Volgens IOL het die vrou se prokureur, Refiloe Mokoena, glo aan hulle gesê polisielede in gewone drag het Sithole Donderdag omstreeks 07:00 in hegtenis geneem.

Mokoena sê sy het Donderdag in die vroeë oggendure ’n oproep ontvang dat Sithole na ’n polisiekantoor geneem is, berig News24.

Netwerk24 se pogings om Mokoena Vrydag te bereik, was onsuksesvol.

Sy beweer daar is aan haar gesê Sithole is ’n pasiënt van die departement van maatskaplike ontwikkeling en dat hulle “ ’n grondwetlike verpligting het om haar ingevolge die Wet op Geestesgesondheid aan enige hospitaal van hul keuse vir psigiatriese evaluering te oorhandig”.

Mokoena sê sy het haar kliënt geraadpleeg en verduidelik dat sy vrywillig kan instem om na die geestesgesondheidsinstelling te gaan waarop haar kliënt “nee” geantwoord het.

Mokoena sê haar kliënt is egter geen keuse gegee nie.

Volgens Mokoena het sy hulle na ’n hospitaal in Tembisa gevolg, waar haar kliënt na ’n psigiatriese afdeling geneem is.

Mokoena sou na verwagting Vrydag in die hooggeregshof aansoek doen om ’n dringende interdik met betrekking tot die aanhouding van haar kliënt.

EWN het Vrydag berig ’n bron het aan hom gesê Sithole is glo by die Tembisa-hospitaal ondersoek.

'Geen teken van keisersnee'

Volgens die bron kon geen tekens van ’n keisersnee by die ma gevind word nie.

Kwara Kekana, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, sê hulle kan nie daarop kommentaar lewer nie.

“Die departement van maatskaplike ontwikkeling hanteer nou die saak. Ons kan nie meer kommentaar lewer nie,” het sy gesê.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag by navraag aan Netwerk24 gesê die media moet die departement ruimte gee.

“Ons wil ’n beroep op die media doen om ons ruimte te gee sodat ons die werk van die staat kan afhandel. Wanneer die werk afgehandel is, sal ons met die land praat.”


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.