Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
10% van SA teen September ingeënt – kenner

10% van die Suid-Afrikaanse bevolking kan teen September teen Covid-19 ingeënt wees, sê prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR).

Prof. Jeffrey Mphahlele
Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Foto: Argief

Dit volg nadat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) onlangs in ’n verklaring gesê het 90% van Afrikalande sal waarskynlik nie dié doelwit bereik nie.

Afrika het 225 miljoen dosisse entstof nodig om 10% van die lande se bevolkings in te ent.

“Terwyl Afrika die kerf van 5 miljoen gevalle nader en ’n derde vlaag wink, word baie van die kwesbaarste mense steeds blootgestel aan die virus. Daar is bewys dat entstowwe Covid-19-gevalle en sterftes voorkom.

“Lande wat dit kan doen, moet dus dringend Covid-19-entstowwe met Afrika deel,” sê dr. Matshidiso Moeti, die WGO se streekdirekteur vir Afrika.

Mphahlele sê hy is vol moed dat “as dinge aanhou soos nou, ons die doelwit of selfs meer teen September sal bereik”.

inentingsdoelwitte, afrika

Prof. Glenda Gray, voorsitter van die SAMNR, sê egter dit hang van die voorsiening van entstowwe af.

“Sedert die verlies aan die Johnson & Johnson-entstowwe is dit onseker wat ons aanbod is. Tensy ons dit met iets anders kan vervang, sal dit ons inentingsprogram in die volgende paar weke kniehalter,” sê Gray.

Suid-Afrika het minstens 2 miljoen dosisse van die J&J-entstof by die aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) verloor omdat dit vernietig moet word.

Dit volg nadat die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) in April die vervaardiging van die J&J-entstof gestaak het ná probleme by ’n aanleg in Baltimore, Amerika, waar ’n kritieke bestanddeel van dié entstof vervaardig word, berig Dennis Delport.

Werknemers van dié aanleg het bestanddele van die J&J- en die AstraZeneca-entstof deurmekaar laat raak.

Dit het ook die aanleg in Gqeberha geraak en 2 miljoen dosisse is onbruikbaar.

300 000 dosisse vir onderwysers

Aspen, die maatskappy aan wie die aanleg behoort, het Maandagmiddag laat hoor hy sal binne etlike dae 300 000 dosisse van die J&J-entstof vir Suid-Afrikaanse onderwysers beskikbaar stel.

Omdat dié terugslag ’n negatiewe impak op die inentingsprogram in Suid-Afrika en Afrika het, sal die maatskappy binne ’n week ander J&J-entstowwe, wat reeds vervaardig is, aan Suid-Afrika lewer om die verlore entstowwe te vervang en die momentum van Suid-Afrika se inentingsprogram op dreef te kry.

Die departement van gesondheid het nie Netwerk24 se navrae beantwoord oor watter doelwit dit teen September wil bereik nie.

Meer oor:  Jeffrey Mphahlele  |  Covid-19  |  Johnson & Johnson  |  Entstowwe  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.