Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
100 000 sal entstof ontvang

Hoewel Suid-Afrika die grootskaalse inentingsprogram met die AstraZeneca-entstof gestaak het, gaan 100 000 mense nogtans daarmee ingeënt word om vas te stel watter uitwerking dit op hospitalisering en sterftes het.

Prof. Shabir Madhi, wat die Suid-Afrikaanse navorsing oor die AstraZeneca-entstof gelei het, meen dit het steeds ’n groot rol om te speel in die stryd teen Covid-19 in Afrika en die wêreld.

Madhi, wat verbonde is aan die Universiteit van die Witwatersrand, het gesê hy sal die sowat 1 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof wat reeds in Suid-Afrika is, onmiddellik begin beskikbaar stel.

Die entstof se vervaldatum is in April en dit sal onverantwoordelik wees om dit te vermors, het Madhi gesê.

ensttof
Hoewel Suid-Afrika die grootskaalse inentingsprogram met die AstraZeneca-entstof gestaak het, gaan 100?000 mense nogtans daarmee ingeënt word Foto: Reuters

Die regering het Sondag aangekondig die inentings word tydelik gestaak sodat wetenskaplikes kan bepaal wat nou gedoen kan word. ’n Aankondiging hieroor word binne dae verwag.

Dr. Angelique Coetzee, ’n lid van die ministeriële komitee oor entstowwe, het vroeër gesê ’n sterk moontlikheid bestaan dat die 1,5 miljoen dosisse van die AstraZeneca-entstof wat Suid-Afrika teen meer as R100 miljoen aangekoop het, op die ashoop sal beland.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, sê dis te gou om te sê of die AstraZeneca-entstof doeltreffend sal wees om ’n ernstige vorm van Covid-19 te voorkom.

“Ons wil mense nie inent met ’n produk wat nie hospitalisering of sterftes sal voorkom nie,” het Abdool Karim gesê.

Plaaslike navorsing wys dié entstof is ondoeltreffend teen die Suid-Afrikaanse variant van die Sars-CoV-2-koronavirus om ligte tot matige Covid-19-infeksie te voorkom.

Intussen blyk dit die Serum-instituut in Indië, wat die entstof vervaardig, het die indruk by die Suid-Afrikaanse regering gewek die vervaldatum is eers oor ses maande, terwyl die entstof inderdaad al in April verval.

Ons wil mense nie inent met ’n produk wat nie hospitalisering of sterftes sal voorkom nie.

Dr. Anban Pillay van die departement van gesondheid het Sondagaand op ’n mediakonferensie gesê die regering praat met die instituut oor die kwessie.

Volgens Coetzee is die kans skraal dat die navorsing om te bepaal of die entstof ten minste beskerming bied teen hospitalisering en sterftes, voor die vervaldatum afgehandel sal wees. “Die groot vraag is: Wie sal uit vrye keuse ingeënt wil word met ’n entstof wat slegs 22% doeltreffend is teen ligte tot matige siekte wanneer geen data bestaan oor of dit beskerming teen hospitalisering sal bied nie?”

Die eerste besending van ’n miljoen dosisse van die Astra­Zeneca-entstof is verlede week ontvang en die tweede besending van 500 000 word in Maart verwag. ’n Bedrag van $5,25 (bykans R80) per dosis is hiervoor opgedok. Dit sou gebruik word om gesondheidswerkers as deel van die eerste fase van die regering se entstof-plan in te ent.

Die regering onderhandel egter druk om die verkryging van die Johnson & Johnson-entstof te versnel.

Dit werk beter teen die Suid-Afrikaanse variant, 501Y.V2.

AstraZeneca het ’n goeie entstof, maar nie vir Suid-Afrika nie.
Verskeie studies die laaste tyd dui daarop dat dié variant, wat in November vir die eerste keer in Port Elizabeth opgemerk is en intussen landwyd versprei het, veroorsaak dat huidige entstowwe oor die algemeen minder doeltreffend is.

Dit beteken volgens Coetzee, wat ook die hoof van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging is, dat die droom om vanjaar kudde-immuniteit te bereik, in die wiele gery sal word omdat die huidige entstof hoofsaaklik net sal keer dat mense in die hospitaal sal beland en sterf.

Volgens haar is dit onregverdig om die skuld vir die AstraZeneca-blaps voor die regering se deur te lê omdat niemand ’n maand gelede vir seker sou kon sê dat dit so ondoeltreffend teen die variant sou wees nie.

“Boonop het die publiek enorme druk op die regering geplaas om entstowwe te verkry. AstraZeneca het ’n goeie entstof, maar nie vir Suid-Afrika nie.”

Die Suid-Afrikaanse variant versprei egter reeds in Brittanje en daar sal oor ’n ruk bepaal kan word of AstraZeneca enige vorm van beskerming daar bied.
Prof. Alex van den Heever, kenner van gesondheidstelselsentstowwe aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê AstraZeneca word in vele ander lande gebruik en dit is Brittanje se primêre entstof.

“Die Suid-Afrikaanse variant versprei egter reeds in Brittanje en daar sal oor ’n ruk bepaal kan word of AstraZeneca enige vorm van beskerming daar bied.”

Volgens hom sal aanvullende entstowwe wat aangepas is teen die Suid-Afrikaanse variant, eers in September beskikbaar wees.

Die entstofverspreider Biovac het gister gesê hy wag op opdragte van die departement van gesondheid oor wat om te doen met die miljoen dosisse AstraZeneca-entstof.

Die nuus oor die Suid-Afrikaanse navorsing en die besluit om die inentingsprogram tydelik op te skort, het ook in die buiteland opslae gemaak.
The New York Times en The Telegraph in Brittanje het onder meer daaroor berig. Dit is omdat wyd gevrees word dat die Suid-Afrikaanse variant ’n internasionale bedreiging inhou.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.