Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Pastoor vertel van oorlewingstryd: 101 dae van Covid-loutering

Past. Bernard van der Vlies van Bloemfontein gesels met Marietjie Gericke oor sy oorlewingstryd van 101 dae met Covid-19.

Jy kan maar sê Covid-19 het sy brein gestremd gelaat, sê Van der Vlies (49). Sy brein het 101 dae lank – van 26 Augustus tot 5 Desember – die hele tyd verkeerde boodskappe ontvang en uitgestuur. Sy smaak was aangetas en hy was so gedisoriënteerd dat tyd, plek en ruimte nie meer sin gemaak het nie.

Hy het in ’n stadium gedink hy is gesond en Van der Vlies, wat van die Volle Evangelie Kerk Therapéa in Fichardtpark is, is na Dewetsdorp om vir die plaaslike gemeente te gaan preek. Hy het twee uur lank gepreek en nie besef hóé lank hy preek nie.

Past. Bernard van der Vlies, wie se broekgrootte weens Covid-19 van 38 tot 34 gekrimp het. Foto: Mlungisi Louw

“Sommiges het gedink die preek was baie mooi en het gesê hulle wil hê hul kinders en kleinkinders moet dit ook hoor, maar ander was deurgesit.

“Die reis van Bloemfontein na Dewetsdorp het vir my soos ’n ewigheid gevoel. Dit het gevoel of ek Kaapstad toe ry. Ek het selfs Karoobossies langs die pad gesien. Alles was vreemd anders, en verkeerde waarnemings.”

Eers toe die Dewetsdorp-gemeente hul hoofouderling na die pastorie in Bloemfontein stuur om te sê hulle dink hy is uitgebrand en moet dalk ’n bietjie langer verlof neem, het hy besef daar is groot fout.

“My simptome en die mistiek wat ek ervaar het, was neurokognitief. Die senustelsel en breinfunksies is aangetas en het die brein beïnvloed.

Emosieloos

“Ek het ook géén emosies ervaar nie en was emosioneel afgestomp. Daar was géén verhouding of emosionele gevoel teenoor God of teenoor my gesin en familie nie.”

Maar sodra hy weer gedink het dat hy nou reg is, het ander hom ingelig dat dit nie die geval is nie.

“Coke het vreemd geproe en my gunsteling-marinade op braaivleis was sleg.”

My brein het nie net verkeerde boodskappe gestuur nie, maar ook verkeerdes ontvang.

Die gemeente het vir hom en sy gesin ’n vakansiehuis in die Boesmansrivier aangebied om daar te gaan rus en hy het al die pad daarheen bestuur.

“Maar ek was die meeste van die tyd nie by nie. Ek kan net so drie gebeurtenisse van die hele vakansie onthou.

“Op die strand het my vrou, Belinda, gekla dat sy nie daar kon stap nie omdat die sand haar voete brand, maar ek het niks daarvan gevoel nie.

“Die skerp stekies van die skulpiesgruis het soos ’n spykerbed gevoel, maar my vrou en drie kinders kon gemaklik daarop stap.”

Raaisel 

Hy weet glad nie waar hy Covid-19 opgedoen het nie.

“Was dit toe ek die hysbak se knoppie gedruk en toe aan my oë of gesig gevat het, of het ek in ’n winkelsentrum of op die lughawe aangesteek?

“Ek het al gedink dit kon dalk gewees het toe ek as vrywilliger tehuise vir bejaardes in Bloemfontein en Dewetsdorp gaan ontsmet het nadat mense daar positief getoets is vir Covid-19 of daaraan gesterf het. Maar dit kan nie wees nie, want ek was heeltyd geklee in ’n volle Covid-19-beskermingspak met ’n kopskerm en ek het handskoene gedra.”

Hy weet net op 25 Augustus het hy niks makeer nie, en op 26 Augustus het hy wakker geskrik met ’n verblindende hoofpyn en lyfseer, en dit het gevoel asof ’n trein hom getrap het.

Past. Bernard van der Vlies haal sy gunsteling-Bybelvers aan: 'Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; U onderhou my lot.' (Psalm 16:5) Foto: Mlungisi Louw

“Dit was ondanks die mengsel van vitamiene en sink wat ek gereeld gedrink het om my teen die virus te beskerm.

“Skielik het daardie mengsel soos Lutzpitz (langs die Ariamsvlei/Upington-pad) se brakwater geproe.

“Jy weet sommer. Die patoloë het my positief getoets. Toe voel ek of ek melaats is. Toe moet ons die protokol in die huis volg sodat ek nie die res van die gesin aansteek nie. My kos moes eenkant voorgesit word en my eetgerei eenkant gehou en gewas word.

“Ná 16 dae het ek gedink as Belinda my nou los, is dit orraait – dit sou net ’n adresverandering wees, so emosieloos was ek.

“My verhouding met God was klinies. Ek het gebid: ‘Here, as ek nooit my smaak kan terugkry nie, kom haal my dan liewers dat ek sterwe.’ ”

In ’n stadium het hy ’n prikkelgevoel in sy bene ervaar en gesukkel om te loop.

“My voete was soms morsdood en koud.”

Hy het soms nie geweet watter dag dit is nie.

“As daar een motor en een parkeerplek was, was ek orraait daarmee, maar ’n tweede motor en drie parkeerplekke was ’n krisis. In een stadium kon ek nie die tweemaaltafel onthou nie. My dryfkrag was weg. Ek het geen verantwoordelikheidsin gehad nie.”

Sy gunsteling-Malva-poeding het soos nat, stroperige, rou meelblom geproe.

“My brein het nie net verkeerde boodskappe gestuur nie, maar ook verkeerdes ontvang.”

Deur dit alles het ek geleer dat God altyd in beheer bly, dat ’n mens net een dag op ’n slag moet lewe en elke dag vir die mense na aan jou moet omgee.

Eendag het hy saam met sy drie kinders muurbal gaan speel toe hy gedink het dat hy al heelwat beter is en oefening kort.

“Ons het twee uur gespeel en ek het nie een wedstryd verloor nie, en die volgende dag was my boudspiere nie eens seer nie.”

Genesing

Hy is toe uiteindelik na dr. Steve van Niekerk, ’n neuroloog, wat hom toe deur die moeilike pad gehelp het.

Hy was twee dae lank in die Life Rosepark-hospitaal vir toetse.

Eers op Saterdag 5 Desember, toe hy opstaan en skielik weer die swembadpomp, voëltjies daar buite en die motors in Benaderylaan kon hoor, het hy geweet die nagmerrie is verby.

“Tydens die siekte kon ek die hele tyd net een oorheersende klank en nie die ander klanke nie hoor.

“En skielik het ek weer na mense verlang en bewus geword van hoe my vrou my deur alles gedra het. Sy moes die gemeente se kleuterskool en kinderhuis sonder my bestuur.

“Ja, daar was ander wat haar gehelp het, maar ek was nie daar vir haar nie. Sy moes alleen bid en die pleisters op die stukkende mense plak sonder my . . . terwyl ek in ’n vreemde werklikheid geleef het.”

Hy sê nou soos wyle Koos du Plessis in sy lied “Gebed”: Wat ek is, is net genade / wat ek het, is net geleen . . . wat ek het, is net geleen . . .

“Deur dit alles het ek geleer dat God altyd in beheer bly, dat ’n mens net een dag op ’n slag moet lewe en elke dag vir die mense na aan jou moet omgee.”


Predikant, gesinsman

  • Geboorteplek: Witbank
  • Gematrikuleer: Die Hoërskool Louis Trichardt.
  • Studies: Teologie aan die kweekskool van hul kerk. Honneurs- en meestersgraad in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat. Besig met ’n doktoraat totdat sy skootrekenaar uit sy motor gesteel is.
  • Getroud met dr. Belinda van der Vlies, ook ’n pastoor wat haar doktorsgraad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom verwerf het.
  • Kinders: Franko (23), wat teologie aan die NWU studeer, Rikus, wat met ’n LLB-graad aan die Akademia-Universiteit besig is, en Eben (10), wat ’n leerling van die Laerskool Fichardtpark is.
  • Stokperdjies: Speel klavier en kitaar en sing.
  • Gemeenskapsdiens: Hy en Belinda het Therapéa Kids, ’n kinder-en-jeugsorgsentrum vir 18 meisies, op die been gebring. Hulle bedryf ook die iKids-kleuterskool vir 40 kinders.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.