Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
2 SA'ners van 'gedoemde virusskip' toets positief

Daar was 12 Suid-Afrikaners aan boord van die Diamond Princess-passasierskip, wat in die Jokohama-hawe in Japan geanker is, van wie twee positief vir die virus getoets het.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê Suid-Afrika het nou eers bewus geword daarvan dat 12 Suid-Afrikaners op die passasierskip gewerk het toe die virus op die skip uitgebreek het.

Dié skip lê al sedert 3 Februarie in die Jokohama-hawe nadat een van die passasiers wat toe reeds die skip verlaat het op 1 Februarie positief vir die virus getoets het. Die minstens 3 700 passasiers aan boord van die skip is onmiddellik in isolasie geplaas en toetse is op al die mense aan boord uitgevoer.

Meer as 705 mense op die skip het uiteindelik positief vir die virus getoets, terwyl vier mense reeds daaraan dood is.

“Die Suid-Afrikaanse regering is deur sy ambassade in Japan deur die Japannese owerhede daarvan bewus gemaak dat daar 12 Suid-Afrikaanse bemanningslede aan boord van die DiamondPrincess-passasierskip gewerk het toe dit deur Covid-19 geraak is. Ons is op 25 Februarie deur die owerhede in Japan ingelig dat twee van die Suid-Afrikaners positief vir Covid-19 getoets het. Hulle ontvang tans behandeling in Japan en luidens die jongste verslae toon hulle geen simptome nie.”

Manzi sê Suid-Afrika is eers aan die einde van die isolasietydperk, op 19 Februarie, daarvan in kennis gestel dat daar Suid-Afrikaners aan boord van die Diamond Princess was.

Sy sê in hierdie stadium sal die Suid-Afrikaners in Japan behandeling ontvang totdat hulle volkome herstel het en nie meer aansteeklik is nie voordat hulle verder reis.

“Die ander tien sal toegelaat word om die skip in opdrag van hul werkgewer te verlaat indien hulle negatief toets. Hulle kan dan onderhewig wees aan ’n verdere isolasietydperk van 14 dae in Japan en nog toetse om vas te stel of hulle toegelaat sal word om verder te reis.”

Manzi sê Suid-Afrika sal die situasie monitor en in kontak met die Japannese regering bly sodat hulle die publiek op hoogte kan hou.

Diamond Princess
Die Diamond Princess in die hawe in Yokohama op 16 Februarie. Foto: Reuters

Die Diamond Princess-passasierskip het Donderdag gesê hulle kan bevestig al hul gaste wat aan boord van die skip was, het reeds die skip verlaat.

“Daar is tans minder as 500 bemanningslede op die skip oor. Van hulle wag vir hul onderskeie regerings se huurvlugte om hulle te ontruim. Vir diegene wat nie met hul regering se huurvlugte vertrek nie, het ons planne tesame met die Japannese ministerie van gesondheid gefinaliseer vir hulle om in ’n fasiliteit in Japan in isolasie geplaas te word,” lui die verklaring deur Princess Cruises .

Die maatskappy gee verder sy versekering dat die bemanning topgehalte- mediese sorg ontvang.

Princess Cruises behoort aan die Brits-Amerikaanse Carnival Corporation wat in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië gesetel is.

CNN het intussen berig dat ’n voorste adviseur in die Japannese regering ’n prentjie geskets het van hoe die situasie aan boord van die skip dalk daaruit kon sien.

Dr. Norio Ohmagari van die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en -voorkoming (CDC), wat ’n lid van die Japannese regering se raadgewende paneel is, sê die maatreëls wat toegepas is, was moontlik nie so volmaak soos aanvanklik gehoop is nie.

Hy sê die Japannese regering moes ’n moeilike besluit neem deur die bemanningslede toe te laat om aan te hou werk, al was daar ’n kans dat hulle die virus sou opdoen. Hy dink egter deur nié die bemanningslede van die passasiers te skei nie kon die bemanningslede ook die virus opdoen en die res van die bemanningslede met die virus besmet het.

“Ons vermoed van die bemanningslede het moontlik self die virus opgedoen, maar hulle moes die passasierskip aan die gang hou. Hulle moes na die passasiers omsien en vir hulle etes neem,” sê Ohmagari.

Die bemanningslede moes aan boord van die skip bly sodat hulle kon verseker dat die daaglikse take op die passasierskip kon voortgaan.

Meer oor:  Japan  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.