Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
151 SA’ners uit China: ‘Fopnuus’ bekommer regering

Niemand sal toegelaat word in die gebied waar die 151 Suid-Afrikaners wat vandeesweek nog uit China teruggebring word, vir minstens 21 dae in kwarantyn sal wees nie.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdag aan LP’s gesê toe hy en sy departement die parlement oor die jongste stand van sake rakende Covid-19 ingelig het.

Zweli Mkhize
Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Ian Carbutt
Niemand sal welkom wees in die kwarantyngebied nie. Dus, al weet iemand waar dit is, sal hy of sy nie daarheen kan gaan nie.

Volgens Mkhize is die fopnuus en vyandigheid op veral sosialemediaplatforms oor die virus en die plek van kwarantyn ’n groot bron van kommer.

“Niemand sal welkom wees in die kwarantyngebied nie. Dus, al weet iemand waar dit is, sal hy of sy nie daarheen kan gaan nie. Nie eens LP’s sal daarheen kan gaan om hul toesighoudende verpligtinge uit te voer nie, want anders sal hulle nie weer daarvandaan kan terugkeer nie,” sê Mkhize.

“Daar word tans nog hieraan gewerk en sodra alles gereed is, sal ons sien hoeveel inligting daaroor beskikbaar gemaak kan word.”

Volgens hom is geen enkele ander Suid-Afrikaner as die twee wat in Japan daarvoor behandel word, al met die virus besmet nie.

“Daar is ook baie fopnuus dat die Lancet-laboratorium mense positief vir die virus getoets het. Dit is onwaar. Tans kan sulke toetse net deur staatslaboratoriums in Suid-Afrika gedoen word.”

Diegene wat terugkom, is nie besmet

Mkhize sê die weermag en die departement van internasionale betrekkinge tref die laaste reëlings voordat die 151 Suid-Afrikaners uit Wuhan, China, “in die volgende paar dae” in die land sal aankom.

“Dit sal aangekondig word. Die 151 sal met hul aankoms vir 21 dae in kwarantyn geplaas word vir toetse en waarneming, waarna hulle huis toe sal kan gaan.”

Volgens Mkhize is dit belangrik om te benadruk dat die 151 nie siek is nie.

“As hulle in kwarantyn positief toets, het ons 13 afgevaardigde hospitale in die land waar hulle noodbehandeling kan kry. Die sterk boodskap wat ons moet uitstuur, is dat die mense nie besmet is nie.”

Volgens hom is elke provinsie slaggereed om enige positiewe geval te kan hanteer.

“Ons het ook ons maatreëls verskerp by alle groot inkomspunte en internasionale lughawens met verhoogde keuringsprosesse en beskermende klere vir personeel en ontsmettingsmiddels op vloere en mure van aankoms- en immigrasiesale. Immigrasiebeamptes dra ook nou maskers en rubberhandskoene.”

Onvermydelik dat dit SA sal tref

Volgens Mkhize sal Covid-19 stadig maar seker in elke land wêreldwyd gediagnoseer word.

Hy sê dit was teen Woensdag al in 81 lande. Binne maande sal dit in elke land wees. Dit is dus belangrik dat Suid-Afrika ook langtermynplanne maak om dit te hanteer.

Dr. Joe Phaahla, Mkhize se adjunk, het Woensdag aan LP’s gesê die stigma onder Suid-Afrikaners oor die virus is kommerwekkend.

“Dit wys dat min opvoeding baie gevaarlik kan wees. Daar is baie dinge wat mense ten opsigte van die virus vrees. Ons sal daarom groter bewustheid onder die publiek moet kweek.”

Hy het ook benadruk die departement het al herhaaldelik gesê die 151 Suid-Afrikaners word net ontruim omdat hulle reeds langer as twee maande vasgekeer is.

“Hulle is gesond en wou uit frustrasie en angs huis toe kom. Steeds is daar egter gerugte dat die regering deur die 151 nou die koronavirus van China invoer en 57 miljoen landsburgers se lewe in gevaar stel ter wille van die 151. Dit is ’n mite wat ons moet verdryf.”

LP’s voer Donderdagmiddag ook ’n debat oor Covid-19 in die parlement.

Meer oor:  Dr. Zweli Mkhize  |  Wuhan  |  China  |  Covid-19-Virus  |  Ontruiming  |  Koronavirus  |  Suid-Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.