Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
16-jarige verkrag: Hospitaalhoof tydelik uit pos

Die Gautengse gesondheidsdepartement het Ruth Mabyana, hoof van die Bheki Mhlangeni-distrikshospitaal in Soweto, waar ’n 16-jarige seun na bewering die naweek verkrag is, tydelik vervang.

Die veiligheid van pasiënte by die hospitaal is onder die vergrootglas ná bewerings deur Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsie, dat daar sedert die begin van die jaar minstens 12 voorvalle van ernstige geweld, insluitende moord, by die betrokke hospitaal was.

In Mei is Kholisile Edwin Zazayokwe (85) in die dieselfde hospitaal deur ’n 17-jarige psigiatriese pasiënt doodgesteek. ’n Hof het intussen gelas dat sy aanvaller vir verdere psigiatriese ondersoek gestuur word.

Jacob Mamabolo, waarnemende LUR vir gesondheid in Gauteng, sê ’n onafhanklike ondersoek sal ’n voorlopige verslag oor die beweerde verkragting lewer.

Die slagoffer is ná die voorval by die Nthabiseng-sentrum by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal behandel en die gesondheidsdepartement het onderneem om hom en sy familie die nodige bystand te gee.

Volgens Mamabolo is die sake by die hospitaal ’n prioriteit. Die departement het hom ook in ’n verklaring daartoe verbind om alles moontlik te doen om die sake te ondersoek.

Mabyana is na die distrikskantoor geskuif terwyl aantygings van wangedrag teen haar ondersoek word. Makabedi Makhetha neem in haar plek waar.

“Mabyana se tyd aan die stuur van die hospitaal was van dag een af ’n nagmerrie, maar sy is soos ’n kat met nege lewens,” beweer Bloom.

“Sy is voorheen geskors, maar toe net weer aangestel – so ek hoop van harte sy word uiteindelik verantwoordbaar gehou vir die jarelange wanbestuur.”

Luidens ’n geskrewe antwoord van Masuku sluit ander ernstige voorvalle by die Bheki Mhlangeni-hospitaal, waar psigiatriese pasiënte ook behandel word, in die aanranding van werknemers en pasiënte, beskadiging van eiendom, ’n pasiënt wat op 7 Maart byna deur die gebou se dak ontsnap het en ’n suksesvolle ontsnapping op 28 April.

Volgens Bloom is ’n veiligheidswag na bewering Sondag by die hospitaal aangeval, en sluit ander probleme oor die jare ’n poste-vir-betaling-skandaal en swak diens in.

Hy bevraagteken ook waarom die veiligheidsituasie by die hospitaal eers aandag geniet nadat hy ’n verklaring daaroor moes uitreik.

Bloom het destyds met die moord op Zazayokwe in ’n verklaring sy kommer uitgespreek oor ’n gebrek aan toegewyde psigiatriese sale.

Philani Mhlungu, woordvoerder vir die Gautengse gesondheidsdepartement, sê dié situasie is intussen opgelos. Alle sale word 24 uur per dag deur veiligheidswagte beman en deur kringtelevisiekameras gemonitor.

“Die inwoners van Soweto verdien beter. Mabyana moet vervang word deur iemand wat gehaltesorg aan pasiënte in ’n veilige omgewing kan waarborg.

“Die bewerings teen die hospitaalhoof moet eers bevestig word voordat ons oor enige moontlike verdere stappe kan besluit,” sê Mhlungu.

Meer oor:  Jacob Mamabolo  |  Ruth Mabyana  |  Soweto  |  Verkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.