Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1ste baba in SA weens Covid-19 dood

Die eerste geval van ’n baba wat aan Covid-19 in Suid-Afrika dood is, is vandeesweek in Johannesburg aangemeld.

Die departement van gesondheid het Woensdagaand gesê die ma is positief vir die virussiekte getoets. Haar baba wat te vroeg gebore is en weens longprobleme dadelik aan ’n ventilator gekoppel is, is twee dae later dood.

Prof. Angela Dramowski, ’n pediatriese infeksiesiekte-spesialis verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se departement van pediatrie en kindergesondheid, sê die ouderdom en geboortegewig van die baba is uiters belangrik om vas te stel watter rol Covid-19 in die baba se dood gespeel het.

“Wat die invloed van Covid-19 op pasgeborenes betref, leer ons steeds baie uit gevalle en verslae oor die oordrag en siektepatroon. Uit die inligting wat ons het, kan gesien word dat die virus ná geboorte van die ma na haar baba oorgedra kan word. Dit sal waarskynlik meestal so na pasgeborenes versprei.”

Prof. Angela Dramowski, ’n pediatriese infeksiesiekte-spesialis by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Verskaf

Sy sê dit kan ook in gemeenskappe of in die hospitaal van ander mense na babas oorgedra word.

Dramowski sê dit is moontlik maar baie seldsaam dat die oordrag van die plasenta na die fetus plaasvind. Volgens haar is baie min gevalle aangemeld waar Covid-19-besmetting voor geboorte plaasgevind het.

Volgens haar is dit moontlik dat die baba in Gauteng voor of ná die geboorte besmet is. Toetse sal vermoedelik gedoen word om te bevestig hoe dit aan die baba oorgedra is.

“Wat die siekteverloop by pasgeborenes betref: Vroeggebore babas met ’n geboortegewig van minder as 2 500 g is weens ’n onontwikkelde immuunstelsel, die behoefte aan middels vir ondersteunende sorg en blootstelling aan antibiotika baie kwesbaar vir infeksie. Die risiko vir ernstige virusinfeksies weens die baba se immuniteit is minder duidelik, maar daar is verskeie verslae van pasgeborenes wat met Covid-19 besmet is en waar sommige babas ’n ligte siekteverloop gehad het.”

Dramowski het verwys na ’n artikel van die internasionale deskundiges Petra Zimmermann en Nigel Curtis oor Covid-19 in kinders en pasgeborenes en gedurende swangerskap, waarin gemeld word dat aanvanklik gedink is dat kinders selde deur die virussiekte geraak word.

“Kinders is net so vatbaar soos volwassenes, maar het minder simptome en word nie so siek nie. Die sterftesyfer onder kinders is ook veel laer.

“Baie van die aanvanklike studies in China is onder volwassenes in hospitale gedoen. Dit is dus nie snaaks dat min gevalle onder kinders aangemeld is nie.”

Volgens die artikel is baie kinders met ligte simptome moontlik nie getoets nie en word die ware infeksiekoers en virale oordrag waarskynlik onderskat.

Meer oor:  Angela Dramowski  |  Johannesburg  |  Sterf  |  Baba  |  Korona-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.