Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1ste DNS-studie oor prostaatkanker in Afrika
In die eerste studie in die wêreld wat die volledige DNS van prostaatkanker in mans van Afrika bekyk het, is gevind dit is beduidend anders as in nie-Afrikane. Foto: NIH

In die eerste studie ter wêreld wat die volledige DNS van prostaatkanker in mans van Afrika bekyk het, is gevind dit is beduidend anders as in nie-Afrikane.

Dit beteken dat prostaatkanker in swart mans van Afrika ’n ander, doeltreffender manier van opsporing en behandeling verg. Daar is ook aanduidings dat dié kanker aggressiewer in hierdie mans is.

Prof. Vanessa Hayes van die Garvan Mediese Navorsingsinstituut in Australië en die Universiteit van Sydney, asook kenners van die Universiteite van Pretoria en Limpopo, het die navorsing gedoen. Dit is in die vaktydskrif Cancer Research gepubliseer.

Binne vyf jaar ná diagnose sal vyf uit elke 20 swart mans aan dié siekte sterf, vergeleke met een uit elke 20 mans in Australië.

Prostaatkanker is ’n genetiese siekte en volgens die studie is daar unieke DNS-veranderinge. Van die veranderinge dryf die groei van die kanker en sommige veroorsaak die verspreiding daarvan na ander organe.

Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Anders as ander kankers het prostaatkanker gewoonlik min mutasies in die selle van die gewas.

Maar daar is gevind in swart mans van Afrika is daar meer DNS-veranderings in die gewasse vergeleke met nie-Afrikane – tot dubbeld soveel. Daar is ook veranderinge in die gewasse gesien wat die kanker aggressiewer maak.

Sekere van die eienskappe van die mutasies is afwesig in mans wat van Europese afkoms is.

Prof. Riana Bornman van die Universiteit van Pretoria sê daar kan moontlik ’n karsinogeen wees wat bydra tot die aggressiwiteit van dié kanker in Afrika.

Met die toenemende bewyse van die nadelige uitwerking van hormoon-ontwrigtende stowwe, is daar wetenskaplike redes om te vermoed dat omgewingsfaktore daartoe kan bydra. Die ander moontlike bydraer is infeksies, maar dis nie bekend wat die infektiewe aandrywers daarvan in bepaalde populasies is nie, en dié moontlikheid word ondersoek. Waarskynlik speel die omgewing, infeksies en nog ander onbekende faktore gesamentlik ’n rol.

Die gewasse wat bestudeer is was van mans van Afrika en van Australië met aggressiewe kanker wat nog nie met behandeling begin het nie. Dus kon dit vergelyk word en verdere navorsing sal nou gedoen word.

Hayes sê dit is belangrik dat die genetiese herkoms nagevors word omdat dit die manier hoe mense op behandeling reageer, kan beïnvloed.

Hoewel immunoterapie nog nie baie suksesvol teen prostaatkanker was nie, kan die DNS-verskille beteken dit kan dalk tog help.

Meer oor:  Afrika  |  Dns  |  Prostaatkanker  |  Medies  |  Gesondheid  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.