Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1ste in SA: Swanger ná daar vroeër geen hoop was

’n Suid-Afrikaanse egpaar verwag ’n baba nadat ’n dokter ’n gesofistikeerde mikroskopiese prosedure gebruik het om enkele sperm in die man se testes te ontdek.

Dit is die eerste keer in Suid-Afrika dat dié betrokke prosedure tot ’n swangerskap gelei het.

Dr. Amir Zarrabi, uroloog en kenner in manlike onvrugbaarheid aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit van geneeskunde en gesondheidswetenskappe, sê die man (38) het ’n toestand bekend as nie-obstruktiewe asoöspermie (NOA). Dit beteken dat wanneer hy ejakuleer dit nie sperm bevat nie.

Dr. Amir Zarrabi, uroloog en kenner in manlike onvrugbaarheid aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit van geneeskunde en gesondheidswetenskappe. Foto: SU

Voorheen kon niks daaraan gedoen word nie en daar moes van geskenkte sperm vir bevrugting gebruik gemaak word. Nou, met baie gesofistikeerde mikrochirurgie soek hy na “klein eilande van sperm in die testes. Daar is baie min, maar ons kan dit kry,” sê hy.

Sperm word gemaak binne-in ’n netwerk van dun buisies binne in die testes.

Om te ejakuleer moet elke buisie minstens drie volwasse spermselle produseer. Sowat 60% van mans met NOA het wel spermselle in die buisies, maar die kwaliteit is nie goed genoeg om oor te spoel in die ejakulasie nie.

Deur die testes met mikrosnykunde te dissekteer word daar in die buisies gesoek na dié wat die beste sperm het. Dié buisies is gewoonlik dikker.

In die meeste gevalle kan hulle net ’n paar spermselle onttrek, tussen 5 en 20. Gewoonlik produseer mans miljoene.

Zarrabi is al vier jaar lank besig met dié werk en in 40% van die pasiënte kry hy wel spermselle.

Hierdie geval is wel die groot suksesverhaal want die vrou (36) is sowat 14 weke swanger. Dit is die eerste prosedure van sy soort in Suid-Afrika wat suksesvol is.

’n Enkele sperm word gebruik om die eiersel in die laboratorium te bevrug. Dit kan gedoen word dadelik nadat die spermsel onttrek is, of dit kan gevries word.

Prof. Thinus Kruger en sy span by die Aevitas-vrugbaarheidskliniek in Kaapstad het dié deel van die werk gedoen.

Zarrabi sê die rede hoekom ’n man NOA het kan geneties wees, ’n man kan so gebore word, of dit kan weens die kindersiekte pampoentjies gebeur, chemoterapie, of testes wat nie behoorlik uitgesak het toe hy ’n kind was nie.

Dikwels word daar eerste by die vrou gesoek vir probleme wanneer ’n paartjie nie kinders kan hê nie. Maar daar is bevind dat die fout in 50% van die gevalle by die man lê.

Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Swangerskap  |  Sperm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.