Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1ste pasiënt wat van MIV genees is, sterf aan kanker

Timothy Ray Brown, sover bekend die eerste mens wat van MIV genees is toe hy ’n unieke beenmurgoorplanting gehad het, is in Kalifornië oorlede ná ’n lang stryd met kanker.

“Dit is met groot hartseer dat ek aankondig dat Timothy oorlede is . . . vanmiddag omring deur myself en vriende, ná ’n vyf maande lange stryd met leukemie,” het sy lewensmaat, Tim Hoeffgen, in ’n inskrywing op Facebook gesê. Hy het gesê Brown is sy “held” en “die allerliefste persoon ter wêreld”.

Terwyl Brown vir meer as ’n dekade MIV-vry was, het sy leukemie die afgelope jaar teruggekeer. Sy dokters het gesê dat die bloedkanker na sy ruggraat en brein versprei het, en hy was onlangs in die hospies in sy tuisdorp Palm Springs in Kalifornië.

Brown, wat op 11 Maart 1966 gebore is, het as die Berlynse pasiënt bekend gestaan nadat sy MIV in 2007 daar behandel is.

Timothy Ray Brown Foto: Twitter/IAS

MIV is in 1995 by Brown gediagnoseer terwyl hy in die Duitse hoofstad gewoon het, en in 2006 is akute miëloïede leukemie, ’n soort bloedkanker by hom gediagnoseer.

Hoeffgen het in die Facebook-inskrywing gesê Brown het dit sy lewenswerk gemaak om die verhaal van sy MIV-genesing te vertel en het ’n ambassadeur van hoop geword.

Vir Gero Huetter, die Duitse dokter wat in 2007 na hom omgesien het, was Brown se geval ’n skoot in die donker. Die behandeling het die vernietiging van Brown se immuunstelsel behels en die oorplanting van stamselle met ’n geenmutasie genaamd CCR5, wat weerstand bied teen MIV.

Slegs ’n klein persentasie mense – die meeste van Noord-Europese afkoms – het die CCR5-mutasie wat hulle bestand maak teen die virus.

Dit en ander faktore het die behandeling wat Brown gekry het duur, ingewikkeld en baie riskant gemaak. Die meeste kenners meen dat dit nooit ’n manier kan wees om alle MIV-pasiënte te genees nie, omdat baie van hulle tydens die prosedure kan doodgaan.

Die Amerikaner se geval het ’n geslag dokters asook MIV-pasiënte gefassineer en geïnspireer, en dit bied ’n sprankie hoop dat daar eendag ’n geneesmiddel gevind sal word wat uiteindelik die vigs-pandemie sal beëindig.

“Ons is baie dankbaar vir Timothy en sy dokter, Huetter, wat die deur vir wetenskaplikes oopgemaak het om die konsep te ondersoek dat ’n geneesmiddel vir MIV moontlik is,” het Adeeba Kamarulzaman, president van die Internasionale Vigsvereniging (IAS), gesê.

Meer as 37 miljoen mense wêreldwyd is tans met MIV besmet en sowat 35 miljoen mense is al sedert die begin van die 1980’s aan vigs dood.

Mediese vooruitgang gedurende die afgelope drie dekades het gelei tot die ontwikkeling van antiretrovirale medisyne wat die virus in toom kan hou en help dat MIV-positiewe mense jare lank met die virus kan saamleef.

’n Tweede MIV-pasiënt, Adam Castillejo, wat bekend gestaan het as die Londense pasiënt totdat hy vanjaar sy identiteit bekend gemaak het, se MIV is vermoedelik in remissie nadat hy in 2016 ’n oorplanting gehad het, soortgelyk aan dié wat Brown gehad het. Reuters

Meer oor:  Kalifornië  |  Sterf  |  Kanker  |  Miv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.