Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
1ste roker dood weens e-sigarette

Dokters in Amerika vermoed hulle het die eerste bevestigde geval van ’n man wat dood is aan ’n ernstige longkwaal wat deur die rook van e-sigarette veroorsaak is.

Die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention (CDC), wat uitsonderlike siektes en sterftes ondersoek, het juis nou ’n ondersoek begin nadat die man van die deelstaat Illinois aan ’n “geheimsinnige longkwaal” dood is.

Die vermoede bestaan dat dit regstreeks met die rook van e-sigarette verband hou.

22 mense tussen die ouderdomme van 17 en 38 is in die laaste week in die deelstaat gehospitaliseer met soortgelyke simptome. Hulle is almal ook rokers van e-sigarette.

Die regering in Illinois het Vrydag ’n verklaring oor die man se dood uitgereik en bevestig dat die CDC dit ondersoek.

“Die ernstige aard van die siekte waarmee die pasiënte worstel, is kommerwekkend. Dit is noodsaaklik dat ons die publiek inlig dat die rook van e-sigarette gevaarlik kan wees,” het Dr. Ngozi Ezike, hoof van die deelstaat se departement vir openbare gesondheid, gesê.

Die BBC berig die CDC het reeds 193 “moontlike gevalle” van die geheimsinnige longsiekte in 22 Amerikaanse state bespeur.

In baie gevalle het die pasiënte e-sigarette gerook wat THC bevat. THC is ’n aktiewe bestanddeel van dagga.

Die eerste geval van ’n man wat dood is aan ’n longkwaal wat deur die rook van e-sigarette veroorsaak is, is bevestig. Foto: Getty Images

Die oorledene is onlangs gehospitaliseer weens ’n “onverklaarbare siekte” nadat hy aangedui het hy rook graag e-sigarette, het dr. Jennifer Layden, mediese hoof van Illinois, gesê.

Robert Redfield, direkteur van die CDC, het die man se dood betreur en bevestig die organisasie ondersoek die onlangse “uitbraak van ernstige longsiektes wat met die rook van e-sigarette verband hou”.

Die presiese oorsaak van die geheimsinnige longsiekte kon nog nie deur medici vasgestel word nie, maar al die pasiënte het bevestig dat hulle e-sigarette rook.

“In baie gevalle het pasiënte ook erken hulle het ’n toestel met THC gebruik,” het dr. Ileana Arias, hoof van nie-aansteeklike siektes by die CDC, gesê.

Pasiënte toon dieselfde simptome, wat insluit kortasem, ’n volgehoue hoes en moegheid. In sommige gevalle is braking en diarree ook teenwoordig, berig USA Today.

Volgens Arias is daar geen aanduiding dat ’n virus of ’n bakterieë vir die longsiekte verantwoordelik is nie.

Intussen het die CDC ’n ondersoek aangevra na die presiese inhoud van die pasiënte se e-sigarette om te probeer vasstel wat die probleem kon veroorsaak het.

Gregory Conley, hoof van die Amerikaanse vereniging van e-sigarette, het Donderdag in ’n verklaring gesê hy is “vol vertroue” dat die siekte deur toestelle veroorsaak word wat dagga of een of ander soort sintetiese dwelm bevat, en nie nikotien nie.

Voorstaanders van e-sigarette meen dit is ’n baie gesonder alternatief as gewone sigarette. Hoewel die mediese gemeenskap hoofsaaklik daarmee saamstem, is daar steeds dokters wat meen e-sigarette hou net soveel gevaar in vir gebruikers omdat dit nie altyd duidelik is wat in die vloeistof is wat hulle rook nie.

Meer oor:  Gesondheid  |  E-Sigarette  |  Longsiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.