Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
2 bakterieë gee dalk Alzheimer

Alzheimersiekte word moontlik deur twee spesifieke bakterieë en/of ’n virus veroorsaak, het ’n span internasionale navorsers bevind.

Dit volg nadat 413 kliniese toetse die afgelope tien jaar om die presiese oorsaak van die siekte vas te stel, onsuksesvol was. Die span van 34, onder wie prof. Resia Pretorius van die Universiteit van Pretoria se fakulteit gesondheidswetenskappe, het dié standpunt ingeneem in die vaktydskrif Journal of Alzheimer’s Disease.

Pretorius het gesê al weet navorsers dat amiloïed- en tau-proteïen vorm in die brein van mense met die siekte, is die oorsaak daarvan grootliks onbekend.

Sy is bygestaan deur Janette Bester, ’n doktorale student.

Daar is ’n hele proses wat in die liggaam gebeur voordat die mikrobes alzheimersiekte veroorsaak. Só werk dit:

Die twee bakterieë dring dalk die liggaam binne van mense wat tandvleisontsteking het, asook dié wat disbiose van die spysverteringskanaal (leaky gut) het.

Die kandidaatvirus is die herpes simpleks Tipe 1 (HSV1). Dit is algemeen bekend as ’n koorsblaar en sowat 3,7 miljard mense onder 50 jaar het dié virus.

Wanneer die virus of bakterieë, wat nog spesifiek geïdentifiseer moet word, in die bloedstroom beland, word dit gewoonlik deur gesonde mense se immuniteitstelsel beveg.

Die bakterieë hou egter van spesifieke omstandighede, soos baie yster in die bloed en ’n onderdrukte immuunstelsel, en die teenwoordigheid word gewoonlik met inflammasie geassosieer.

Dit is lank reeds bekend dat alzheimersiekte ook met inflammasie verband hou.

Pretorius het verder verduidelik dat ’n stresvolle situasie ’n mens natuurlike streshormone laat afskei en dít kan ook die mikrobes “wakker maak”.

Skade word aan selle gedoen deur die bakteriële membraankomponente wat toksiene afskei en bekend staan as ’n neurotoksien genaamd LPS (lipopolisakkaried). Dit is bekend dat LPS die brein se bloed-brein-skans deurlaatbaar maak en neuro-inflammasie veroorsaak.

LPS is al deur ander navorsers in die bekende alzheimerplake in die brein gekry.

Dieselfde gebeur met die HSV1 wat gewoonlik dormant is, maar dit word ook geaktiveer ná stres en in mense wie se immuniteitstelsel onder druk is. In meer as 100 studies is bevind dat die virus regstreeks of onregstreeks ’n groot faktor is.

Die navorsers het gesê meer navorsing is dringend nodig oor die presiese rol van mikrobes in alzheimersiekte.

Pretorius het gesê mense moet in gedagte hou dat ’n proses oor jare gebeur waarin ’n mens se immuunstelsel en algehele gesondheid, asook jou genetiese samestelling, jou vatbaarheid bepaal. Dit beteken ook nie dat alzheimersiekte aansteeklik is

nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.