Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
2 kinders dood: Antibiotikum is veilig, sê dokter

Die antibiotikum waarmee twee peuters in ’n staatshospitaal in Limpopo ingespuit is en kort ná mekaar dood is, is “baie veilig en word wyd voorgeskryf”, sê ’n private dokter wat as algemene praktisyn in Polokwane praktiseer en nie genoem wil word nie.

Die hoofingang van die Dr. C.N. Phatudi-hospitaal in Maake buite Tzaneen in Limpopo. Foto: Rudzani Tshikororo
Netwerk24Rudzani Tshikororo

Limpopo se departement van gesondheid het ’n sekere besending breëspektrum-antibiotikum voorlopig uit staatshospitale onttrek ná die dood van twee peuters.

Die twee peuters, albei twee jaar oud, is Saterdag in die Dr. C.N. Phatudi-hospitaal in Maake buite Tzaneen dood.

Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid, het opdrag gegee dat die antibiotikum, Rocephin, met die verpakkingsnommer 8f004OA30 aan alle provinsiale hospitale in Limpopo onttrek word.

Neil Shikwambana, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê dié stap is as ’n voorkomingsmaatreël ingestel terwyl ’n ondersoek gedoen word na wat die peuters se dood veroorsaak het.

Een van die kinders, Vicky Mmola, is Donderdag met griepsimptome in die hospitaal opgeneem, berig die SAUK.

Shikwambana sê 'n tweejarige meisie, Lebogang Nyakale, is Woensdag in die hospitaal opgeneem en is ook Saterdag dood. Hy wou nie sê met watter siekte die kind gediagnoseer is nie.

Volgens hom was hulle in ’n bestendige toestand voordat hulle onderskeidelik elkeen drie en vier dosisse van die antibiotikum toegedien is. Hy kon nie sê hoeveel milligram die dosisse was wat die kinders gekry het nie.

Die kinders, wat nie verwant is aan mekaar nie, is Saterdag kort ná mekaar dood.

Die antibiotika wat gebruik is om twee kleuters te behandel in die Dr. C.N. Phatudi-hospitaal buite Tzaneen in Limpopo. Rociject is ’n ander handelsnaam vir die middel ceftriaxone. Foto: Rudzani Tshikororo
Netwerk24Rudzani Tshikororo

Rocephin is ’n breëspektrum-antibiotikum wat die middel ceftriaxone bevat en gebruik word om verskeie bakteriese infeksies te behandel. Die peuters is ingespuit met Rociject, ’n ander handelsnaam vir dieselfde middel. Shikwambana sê die vervaldatum van die antibiotikum is aangedui as 2020.

Vicky Mmola (2) is Saterdag in die Dr. C.N. Phatudi-hospitaal buite Tzaneen in Limpopo dood. Foto: Verskaf
Netwerk24Foto: Verskaf
Dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo. Foto: Verskaf
Netwerk24Foto: Verskaf

Lykskouings op die kinders sal die presiese oorsaak van hul dood bepaal.

Ramathuba het forensiese patoloë, aptekers en ’n pediater gevra om deel te wees van die ondersoek na die kinders se dood.

Shikwambana sê die inspuitings en spuitnaalde is verseël en daar sal forensiese toetse op gedoen word.

Hy kon nie sê wanneer die uitslae van die lykskouings en die forensiese toetse bekend sal wees nie.

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Polokwane  |  Dood  |  Antibiotika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.