Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
2de vlaag: Syfers wys virus verslap nog nie sy wurggreep

Suid-Afrika se Covid-19-gevalle en -sterftes het sedert die tweede vlaag einde verlede jaar begin het, die hoogte in geskiet terwyl die land se infeksies ook in hierdie tydperk die 1 miljoen-kerf verbygesteek het.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het op 9 Desember 2020 bekend gemaak die land bevind homself in die greep van ’n tweede vlaag van die Covid-19-pandemie.

Suid-Afrika het enkele dae later op 16 Desember vir die eerste keer sedert die eerste vlaag verlede herfs meer as 10 000 nuwe Covid-gevalle aangemeld.

Rekordsyfers

Die land se Covid-syfers het vandaar die hoogte ingeskiet. Rekordgetalle nuwe gevalle en sterftes is in die tydperk van 16 Desember tot 16 Januarie aangemeld.

Mkhize het op 31 Desember, enkele ure voordat die Nuwejaar aangebreek het, bekend gemaak dat Suid-Afrika vir die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie die 18 000-kerf vir nuwe gevalle oorskry het.

Die gevalle het daarna ietwat afgeneem totdat daar op 6 Januarie ’n nuwe rekord van 21 832 nuwe infeksies aangemeld is. Die hoogste tot nog toe, het Mkhize benadruk.

Maar twee dae later was daar meer: 21 980 nuwe infeksies.

Vandaar het gevalle geleidelik begin afneem totdat Suid-Afrika op 16 Januarie 13 973 nuwe gevalle aangemeld het.

Vir ’n paar dae vandeesweek is minder as 10 000 nuwe gevalle per dag aangemeld, maar Woensdag is die 12 000-kerf weer oorskry.

Sterftes in 2de vlaag

In die tweede vlaag het sterftes ook aansienlik toegeneem met die somber mylpaal van meer as 800 sterftes op 6 Januarie. Op dié dag het die nasionale departement van gesondheid bekend gemaak dat 844 sterftes aangemeld is. Daar is egter duidelik gemeld dat die getal agterstallige sterftes in die Oos-Kaap wat terugdateer na 2020 bygetel is.

Tog, enkele dae later op 13 Januarie het die departement weer meer as 800 nuwe sterftes aangemeld, ’n merkbare styging van die vorige dag se 300 sterftes. Hierdie keer was daar geen verwysing na ’n konsolidasie van ou syfers nie.

As daar gekyk word na die data wat elke dag deur die departement van gesondheid vrygestel word, is die gemiddelde getal sterftes per dag 412 in die tydperk van 16 Desember tot 16 Januarie.

Tussen 1 Januarie en 20 Januarie het Suid-Afrika gemiddeld 15 613 nuwe gevalle per dag aangemeld en tussen 16 Desember en 16 Januarie gemiddeld 14 124 nuwe gevalle per dag. Die land het tussen 22 Desember en 20 Januarie gemiddeld 14 263 nuwe daaglikse gevalle aangemeld.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê Suid-Afrika se infeksiekoers het op 20 Januarie op 2 297 nuwe Covid-gevalle per 100 000 van sy bevolking gestaan.

Meer oor:  Nios  |  Covid-19  |  Gesondheid  |  Koronavirus  |  2De Vlaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.