Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
32 bejaardes, 26 werkers by oord het virus

Sowat 32 bejaarde inwoners en 26 personeellede by die Panorama Palms-aftreeoord in Panorama, Kaapstad, is die afgelope maand positief getoets vir die koronavirus.

Baie van dié inwoners het ook onderliggende gesondheidstoestande.

Ontstoke familielede van inwoners het Vrydag gesê hulle is eers op 15 Mei per e-pos ingelig dat ’n werker by die oord positief vir die koronavirus getoets is.

Netwerk24 is in besit van ’n afskrif van die e-pos.

Familielede het uit vrees vir viktimisasie van hul ouers gevra dat hul name nie genoem word nie.

Die werker wat positief getoets is, is glo reeds op 7 Mei vir ’n toets gestuur. Die uitslag is glo die volgende dag, 8 Mei, ontvang. Dit was positief.

Die brief is op 20 Mei aan familielede van inwoners van die Panorama Palms-aftreeoord geskryf waarin gesê word hoeveel inwoners en personeellede sedertdien by die oord positief vir die koronavirus getoets is.
In die brief gedateer 15 Mei skryf Shaun Fabricius van Trans50 dat hulle met ’n swaar hart die nuus moet deel dat een van hul werkers positief vir die koronavirus getoets is. Hy skryf ook dat die werker vir die afgelope agt dae nie by die werk was nie.

Die aftreeoord behoort aan die Trans50-onderneming.

In e-pos wat Ruan de Wet, besturende direkteur van Trans50, op 18 Mei aan Netwerk24 gerig het, skryf hy ook dat die eerste geval op 8 Mei aangemeld is.

“Sy het op 7 Mei simptome begin wys en is dadelik gestuur om getoets te word. Sy is ook in daardie stadium van die skof afgehaal en onder selfisolasie by die huis geplaas.”

De Wet skryf die werker se uitslae is op 8 Mei ontvang en dat dit positief was. Hy skryf ook dat hulle onmiddellik begin het om die mense op te spoor met wie die werker in kontak was.

Nadat hy Vrydag gevra is hoekom familielede van inwoners eers op 14 Mei oor die positiewe geval ingelig is, het hy ontken dat die werker se uitslae reeds op 8 Mei ontvang is.

Volgens hom het hy op 18 Mei met die skryf van die e-pos nie al die inligting gehad nie en kon hy nie op kort kennisgewing die volledige prentjie kry nie.

“Sy is die 8ste gestuur vir die toets, en ek het verkeerdelik gesê dat die resultate daardie dag verkry is,” was sy antwoord Vrydag.

Die e-pos wat De Wet op 18 Mei aan Netwerk24 gerig het, het gevolg nadat daar verkeerdelik berig is dat die positiewe geval by die Trans50-aftreeoord in Boksburg in Gauteng is.

De Wet het in die e-pos op 18 Mei op ’n regstelling aangedring en in dié e-pos die datums van 7 en 8 Mei gegee as die datums waarop die werker vir die toets gestuur en haar uitslag ontvang is.

Nog 60 inwoners is glo ook Vrydag deur ’n private laboratorium getoets.

Een van die inwoners wat intussen positief getoets is, is glo verlede Vrydag uit die Panorama-hospitaal ontslaan. Die inwoner is met ontslag negatief vir die virus getoets. Hy en ander inwoners is Maandag getoets. Sy uitslag is glo een van vele wat Dinsdag as positief teruggekom het.

De Wet het nie gereageer op vrae rondom die getal mense wat intussen positief getoets is nie.

Hy het wel gesê hulle is in ’n afgesonderde gebied en die positiewe werkers is by hul huise.

In e-pos gedateer 20 Mei lig Shaun Fabricius van Trans50 wel familielede van inwoners in hoeveel inwoners en personeellede by die aftreeoord positief vir die koronavirus getoets is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.