Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: Is 3de vlaag reeds hier?

Die amptelike standpunt van die departement van gesondheid is dat die land nog nie in 'n derde vlaag van die Covid-19-pandemie is nie, al het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, dit so in 'n interne brief beskryf.

Mkhize het provinsiale regerings glo in ’n omsendbrief gewaarsku koronavirusgevalle in die land styg skerp, berig News24.

“Vir alle praktiese doeleindes is ons nou in ’n derde vlaag, al strook dit nie met die tegniese definisie daarvan nie.

Dr. Zweli Mkhize

“Die getalle sal nie nou meer daal nie, behalwe as ons met intensiewe beheermaatreëls begin,” skryf Mkhize.

Stygings in gevalle word veral ook nou in die Wes-Kaap gesien. 

Mark van der Heever, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, het Woensdag gesê daar was vandeesweek ’n toename in koronavirusgevalle in die provinsie en die premier, Alan Winde, het beloof om vandag meer inligting hieroor te gee op sy weeklikse digitale mediakonferensie.

Van der Heever het gesê deur die monitering kan die departement en die publiek vasstel wanneer ’n oplewing plaasvind.

Hiervolgens was die positiewe gevalle in die provinsie teen Woensdagmiddag laat 2 535, terwyl 197 nuwe gevalle in die voorafgaande 24 uur aangemeld is. Die sterftesyfer is tot dusver 11 685, en 70 629 mense is reeds ingeënt.

Teen Dinsdagmiddag was 773 mense in die hospitaal, van wie 156 in die waak- of hoësorgeenheid is, luidens ’n verklaring.

Volgens die provinsie se Covid-19-statistieke kom die meeste aktiewe gevalle (351) tans in die westelike distrikte in die metropool voor teenoor 210 wat dit op 5 Mei was, gevolg deur die suidelike distrikte (330 en 210), noordelike distrikte (232 en 129) en die Tygerberg (226 en 151).

Dit wil ook voorkom asof daar ’n merkbare toename in gevalle in die Tuinroete is.

In totaal het die aktiewe getalle in die laaste 12 dae in die Tuinroete-distrik met 32% toegeneem, waarvan 84% van die nuwe gevalle in die Mosselbaai-gebied was.

Die nasionale departement van gesondheid het intussen Woensdagaand ’n persverklaring uitgereik wat Mkhize skynbaar weerspreek.

Die departement het in ’n verklaring gesê hy het opgemerk nuwe gevalle het van 8 593 in die voorafgaande sewe dae (26 April tot 2 Mei) gestyg tot 12 531 tussen 3 Mei en 9 Mei. Dit dui dus op ’n toename van 46%. Die departement sê hoewel die syfers kommerwekkend is, dui dit egter nog nie op ’n derde vlaag nie.

Volgens die departement was daar in al die provinsies ’n toename in gevalle. Die hoogste was in die Noord-Kaap met 68%, gevolg deur Gauteng met 63%. Limpopo (47%), Noordwes (42%) en die Wes-Kaap (39%).

Kenners stem saam dat die derde vlaag nog nie hier is nie.

Bruce Mellado, lid van die Gautengse Covid-19-bevelsraad, sê hoewel die aantal nuwe gevalle in dele van die land styg, meen hy Suid-Afrika ervaar beslis nog nie ’n derde vlaag van die virus nie.

Mellado sê hy verstaan die kommer oor sekere provinsies, maar volgens hom is KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap nog buite gevaar.

Prof. Adrian Puren, waarnemende direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, sê te oordeel na die toename in positiewe gevalle, tesame met al die ander aanwysers, beleef Suid-Afrika in sy geheel nog nie ’n derde vlaag nie.

Hy reken dat die Vrystaat tans die enigste provinsie is wat deels ’n derde vlaag ervaar. Ofskoon infeksiesyfers in die Noord-Kaap ook hoog is, is die provinsie steeds in sy tweede vlaag, sê Puren, omdat die provinsie volgens hom nooit dié vlaag behoorlik afgeskud het nie.

Prof. Jeffrey Mphahlele, adjunkpresident van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, sê hy was ook onder die indruk dat die land nog nie in ’n derde vlaag is nie.

“Dit is baie interessant. Kom ons kyk hoe die minister gaan reageer,” het Mphahlele oor News24 se artikel gesê.

Dr. Lwazi Manzi, die minister se woordvoerder, kon nie vir kommentaar bereik word nie. – Arisa Janse van Rensburg, Jackie Kruger , Christiaan du Plessis en Werner Beukes

Meer oor:  Dr. Zweli Mkhize  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.