Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
3de vlaag dalk erger as vorige vlae saam, meen kenner

Vrese bestaan dat die uitwerking van Covid-19 se derde vlaag erger as die eerste twee saam kan wees.

Daar is reeds geweldige druk op die hospitale in Bloemfontein en dit kan nog lank voortduur.

Dr. Cloete Jansen van Vuuren Foto: Argief

So sê dr. Cloete Jansen van Vuuren, ’n spesialis in die voorkoming en behandeling van oordraagbare siektes en hoof van die departement interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein.

Jansen van Vuuren sê dit kan ’n week of twee neem voordat ’n mens sal kan sien of die verskerpte inperkings ’n invloed gaan hê nadat pres. Cyril Ramaphosa die land na vlak 3 teruggeskuif het.

Dit is omdat mense wat nou aangesteek het, eers oor ’n week of twee weke (binne 14 dae) siek gaan word.

Hy sê die inperking is ook nie so streng soos wat dit in die verlede was nie.

“Dit lyk tog asof daar ’n draaipunt in Bloemfontein en die res van die Vrystaat kom, maar ons hospitale is eenvoudig onder geweldige druk.

“As ons kyk na wat nou in Gauteng aan die gang is, is dit verstommend en kan die invloed van die derde vlaag erger as dié van die eerste en tweede een saam vir die land word.”

Hy sê mense moet eenvoudig samedrommings vermy en hulle moet maskers dra.

“Daar is nou geweldig baie gevalle. Die kanse is goed dat ’n mens gaan aansteek as jy tussen ’n klompie mense is omdat nie almal simptome wys nie. Sommige mense weet nie eens dat hulle siek is nie.”

Jansen van Vuuren sê daar word genoeg toetse in die land gedoen.

“Dit het opgeskuif van 30 000 tot 60 000 per dag en nou toets al meer as 20% hiervan positief. Dit wys watter trajek die siekte volg.”

Mondli Mvambi Foto: Argief

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, sê ’n groot probleem is bygelowe.

“Mense glo eerder aan die gebruik van tradisionele medisyne en ivermektien as om vir die entstof te kom. Die Vrystaatse gesondheidsdepartement doen al die moontlike om diegene ouer as 60 so ver te kry om entstofpunte te besoek sodat hulle ingeënt kan word.”

Hy sê daar is nou wetenskaplike navorsing nodig om vas te stel waarom diegene ouer as 60 jaar nie vir inenting wil kom nie.

Die Vrystaat word deur ses provinsies en Lesotho omring en wat daar gebeur, het ook ’n uitwerking op die provinsie, meen hy.

Rossouw Botes Foto: Argief

• Rossouw Botes, DA-raadslid wat uit die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein ontslaan is nadat hy die virussiekte opgedoen het, sterk nou tuis aan.

Volgens hom kan hy nog nie lekker praat nie nadat sy stem ’n ruk weggeraak het.

“Dit is een van die nagevolge en klink vreeslik. Ek bly net moeg. Gelukkig het my suurstofvlak begin verbeter.”

Hy sê hy het mooi gedink oor die siekte.

“Ek het besef die virus val jou liggaam aan. Dit kry beheer oor jou suurstofvlak en as jy nie onmiddellik hulp soek nie, kan dit jou lewe kos.”

Sy vrou, Eljo, is ook positief getoets, maar is soveel beter dat sy Vrydag kan terugkeer werk toe.

“Ek moet ook noem dat ons in Bloemfontein wêreldklas-dokters by die Life Rosepark-hospitaal het wat my gesondheidsituasie omgekeer het.

“Ek kan ook nie nalaat om al die eer aan Ons Hemelse Vader te bring nie.

“Ek is so jammer vir baie families wat verlies weens die siekte moes verwerk.”

Meer oor:  Dr. Cloete Jansen Van Vuuren  |  Bloemfontein  |  Covid-19  |  Inperkings  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.