Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
3de vlaag infeksies tref groot dele van Europa

’n Derde vlaag van koronavirusinfeksies is vinnig besig om oor groot dele van Europa te versprei.

The Guardian berig die getal infeksies in die Europese Unie (EU) is nou op die hoogste vlakke sedert die begin van Februarie en dat die nuwe variante van die virus die grootste rede vir baie van hierdie stygings is.

Verskeie lande is op die punt om binne die volgende paar dae nuwe en strenger inperkingsregulasies in te stel. Dit is in teenstelling met Brittanje, wat stadig besig is om sy regulasies te verslap wat die sluiting van winkels, skole en die verbod op sportbyeenkomste betref.

Meer as 27 000 nuwe infeksies en 380 sterftes is Vrydag in Italië aangemeld.

Die premier, Mario Draghi, het gesê meer as ’n jaar ná die begin van die pandemie word die land deur ’n nuwe vlaag infeksies bedreig.

“Ons onthou wat verlede lente gebeur het en ons sal alles in ons vermoë doen om te voorkom dat dit weer gebeur.”

Olivier Véran, die minister van gesondheid in Frankryk, het die situasie in die groter Parys as gespanne en kommerwekkend beskryf.

“Elke 12 minute word ’n inwoner van Parys in ’n waakeenheid opgeneem – dag en nag,” het hy gesê.

Kenners in Duitsland het Saterdag teen enige verslapping van die inperkingsmaatreëls gewaarsku nadat die getal gevalle weer gestyg het. Die moontlikheid bestaan dat ’n kruin, soos wat rondom Kersfees ondervind is, weer teen die middel van April gesien kan word.

Elke 12 minute word ’n inwoner van Parys in ’n waakeenheid opgeneem – dag en nag.

Die Robert Koch-instituut (RKI) vir aansteeklike siektes voorspel dat die gevalle wat daagliks aangemeld word, vanaf die 14de week – wat op 12 April begin – 3 000 kan oorskry, berig Reuters.

“ ’n Ekstrapolasie van die tendense toon dat die vlakke na verwagting vanaf die 14de week hoër as die vlak tydens die Kerstyd kan wees, sê die RKI in ’n verslag.

Nuwe inperkingsregulasies sal na verwagting vandeesweek weer in Pole afgekondig word. Streng regulasies geld steeds en die meeste skole is gesluit en restaurante mag slegs kos vir aflewering verkoop.

Hoë infeksiekoerse en ’n toename in Covid-19-sterftes is ook in Hongarye en Tsjeggië aangemeld, en gesondheidsamptenare het gewaarsku dat dit in die komende weke waarskynlik sal vererger, berig The Guardian.

The Times berig ook dat die infeksiekoerse oor die hele EU op die hoogste vlakke sedert die begin van Februarie is, terwyl baie lande se inentingsprogramme glad nie vlot verloop nie. Daar is ook weer tekorte aan die AstraZeneca-entstof, terwyl daar boonop kommer is oor die moontlike newe-effekte daarvan.

Luidens The Times beoog die Italiaanse regering om ’n verbod op Paasfeesvierings te plaas en mense in 14 van sy 20 streke, waaronder dié rondom Rome en Milaan, opdrag te gee om waar moontlik eerder tuis te bly. - The Guardian, Reuters, The Times


Meer oor:  Mario Draghi  |  Europa  |  Infeksies  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.