Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
3de vlaag: Wes-Kaap nader 15 000 aktiewe gevalle

Die Wes-Kaap het teen Donderdagmiddag meer as 14 800 aktiewe koronavirusgevalle gehad. Die provinsie is egter nie soos Gauteng in die voorste linies van die derde vlaag nie, is Donderdagoggend op Alan Winde, Wes-Kaapse premier, se weeklikse digitale konferensie gesê.

Volgens Winde is die provinsie op alle vlakke gereed vir die derde vlaag, maar mense moenie die gesondheidstelsel “toets” nie.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, sê daar is kommer oor gevalle in kleiner plekkies soos Kliprand, Suurbraak by Swellendam en Murraysburg.

“Dit wys kwesbare groepe moet geprioritiseer word.”

Mense is gevra om hul familie te beskerm en nie met mense buite familieverband kontak te hê nie.

Dr. Keith Cloete, hoof van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê vir elke 100 aktiewe gevalle is daar 125 nuwe gevalle – die ideaal is dit dat minder as 100 moet wees.

Volgens hom is alle provinsies behalwe drie – die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo – nou in die derde vlaag. Binne tien dae sal al die provinsies egter in die derde vlaag wees. Daar is ’n vinnige toename in aktiewe gevalle in Gauteng en die piek daar is nog nie bereik nie.

Die afgelope twee weke was daar ’n vinnige styging in die getal gevalle in die Wes-Kaap. Daagliks is daar meer as 1 039 nuwe gevalle, 80 tot 90 hospitaaltoelatings en sowat 15 sterftes. In die Kaapstad-metrogebied was daar ’n 51%-toename week tot week in gevalle. Daar was ’n massiewe toename oral op die platteland.

Die Beta-variant is steeds dominant in die Wes-Kaap.

Mense is gevra om hul familie te beskerm en nie met mense buite familieverband kontak te hê nie.

In die Overberg het gevalle by ’n werkplek uitgebreek en toe na gesinne versprei.

Op die vraag of die huidige entstowwe doeltreffend is teen al die verskillende variante, het Cloete gesê verskeie studies wys dit is doeltreffend.

Winde het later in ’n verklaring gesê die Wes-Kaapse regering het bevestiging van die nasionale departement van gesondheid gekry dat hy vandeesweek 191 880 dosisse Pfizer-entstof sal ontvang wat oor die volgende twee weke gebruik sal word. Tot dusver is 26 400 dosisse van Johnson & Johnson (J&J) se entstof vir opvoeders ontvang. Daar is Woensdag met hul inenting begin. Die weeklikse voorraad van J&J-entstof wat aan die provinsie verskaf sal word, sal ook na verwagting binne die volgende week bevestig word.

Volgens hom is die inwerkingstelling van die provinsie se inentingsprogram geraak deur lae voorrade van entstof en sal dit aangepas moet word. Maar met die bykomende dosisse wat nou beskikbaar gestel word, glo hy die program sal gou weer op koers wees.

Benewens ander inentingslokale, gaan daar drie massa-inentingslokale wees: in Kaapstad self, op die Kaapse Vlakte en in Bellville.

Mense is ook daaraan herinner dat veranderings in hul gedrag nodig is om die derde vlaag se kurwe af te plat.

Jongste syfers
Teen Donderdag om 13:00 was daar 14 844 aktiewe gevalle in die Wes-Kaap, waarvan 2 395 in die laaste 24 uur aangemeld is, volgens die Wes-Kaapse departement van gesondheid se Covid-19-inligtingsbord.


Meer oor:  Dr. Keith Cloete  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Pandemie  |  Covid-19  |  3De Vlaag  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.