Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
4 ‘gesondes’ met Covid-19 dalk hof toe oor kwarantyn

Vier mense in KwaZulu-Natal wat positief getoets het vir die koronavirus, het regshulp ingewin om uit kwarantyn te kom en in selfisolasie te gaan by hul huise.

Hoewel hulle positief getoets het, toon hulle geen simptome van die virussiekte Covid-19 nie.

“In hierdie stadium het ons aan die (Addington-)hospitaal en die kantoor van die LUR van gesondheid geskryf om hul vrylating te eis,” sê Mark Futcher, hul prokureur.

Hul grootste klagte is dat daar nie konsekwent teenoor hulle opgetree word nie omdat meer as 100 mense in Suid-Afrika wat positief getoets het, tuis of in een of ander vorm van selfkwarantyn is.

As druk op ons gesit word, sal ons nie huiwer om die regsroete te volg om die belange van die publiek te beskerm nie.

Hulle is “100% gesond” en wil selfisoleer.

Futcher wou nie meer besonderhede oor sy kliënte gee nie, maar IOL het berig dat hulle onder die groep van tien mense was wat in Maart teruggekeer het van ’n skivakansie in Italië. ’n KwaZulu-Natalse man wat lid van dié groep was, was die eerste persoon wat in Suid-Afrika positief vir Covid-19 getoets het.

Futcher sê twee mense in die kwarantyngroep in die Addington-hospitaal het negatief getoets. Daar is aan hom gesê dat die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) aanbeveel het dat hulle vrygelaat word om tuis in selfisolasie te gaan.

Hy sê die kwarantyngroep word goed behandel, maar wil selfisoleer in hul eie omgewing en die vier beddens in die agt-bed-eenheid in die hospitaal beskikbaar maak aan ander mense.

“En vir een of ander onbekende rede, blok die LUR se kantoor hul vrylating,” sê Futcher.

‘Geen spesiale behandeling’

Nomagugu Simelane-Zulu, LUR van gesondheid in KwaZulu-Natal, sê in ’n verklaring die departement “sal nie as gyselaar aangehou word” deur enigiemand wat spesiale behandeling eis nie.

“Ons het ’n verpligting om die protokol vir kliniese bestuur te volg in bevestigde gevalle.

“Die Wet op Nasionale Gesondheid maak dit baie duidelik dat as enige persoon wat ’n kliniese of laboratorium-bevestigde geval is, weier om getoets, behandel, geïsoleer of gekwarantyn te word, mag die hoof van die provinsiale departement van gesondheid die hooggeregshof nader vir ’n toepaslike hofbevel om die persoon te dwing om aan die wet te voldoen.

“As druk op ons gesit word, sal ons nie huiwer om die regsroete te volg om die belange van die publiek te beskerm nie,” sê Simelane-Zulu.

Hulle mag ook nie behandeling of kwarantyn weier nie.

Kragtens die regulasies wat in die Staatskoerant aangekondig is nadat pres. Cyril Ramaphosa ’n nasionale ramptoestand aangekondig het, mag niemand wat positief toets vir Covid-19, of vermoedelik Covid-19 onder lede het, of wat in kontak was met iemand wat geïnfekteer is, weier om ’n mediese ondersoek te ondergaan of in ’n mediese gerief opgeneem te word nie.

Hulle mag ook nie behandeling of kwarantyn weier nie.

’n Landdros kan ’n dagvaarding uitreik om dit op te dwing.

Die Gautengse departement van gesondheid het reeds hierdie roete gevolg nadat ’n ma en dogter geweier het om in kwarantyn te gaan nadat hulle positief getoets het.

Futcher voer aan dat die weiering om sy kliënte huis toe te laat gaan, nie konsekwent is met ander gevalle waar mense positief getoets het nie.

Hy wag op verdere instruksies van sy kliënte en kan moontlik volgende week hieroor hof toe gaan.

Meer oor:  Kwarantyn  |  Selfisolasie  |  Italië  |  Kwazulu-Natal (Kzn)  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid 19-Virus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.