Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
40 m. SA’ners teen einde vanjaar ingeënt? Nooit

Die regering kan sy plan om 40 miljoen Suid-Afrikaners teen die einde van vanjaar teen die koronavirus ingeënt te hê, op sy maag skryf.

Prof. Shabir Madhi, entstofkundige en voormalige direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes, sê die regering se entstofplan wat Sondag deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bekend gestel is, is nie ’n plan nie, maar wensdenkery.

Al pluk SA 'n haas uit 'n hoed ...

As Suid-Afrika ’n haas uit ’n hoed pluk en miljoene dosisse entstof kry en in April begin inent, is daar steeds astronomiese uitdagings.

“Sou die regering in April begin inent, sal omtrent 150 000 mense per dag vir sewe dae per week die entstof moet ontvang vir die res van die jaar.”

Tweedens mag die entstowwe volgens Madhi nie aan kinders onder die ouderdom van 14 gegee word nie. Aangesien Mkhize-hulle die entstof aan 67% van die bevolking wil toedien, beteken dit volgens Madhi se berekenings dat omtrent elke enkele Suid-Afrikaanse volwassene ingeënt sal moet word.

Hy het ook Mkhize se verskoning bevraagteken oor hoekom die regering nie betyds ooreenkomste met farmaseutiese maatskappye gesluit het om vroeër ’n voldoende hoeveelheid entstof te bekom nie.

Is die deposito-verskoning geldig?

Mkhize het verduidelik dat die regering deposito’s sou moes betaal, terwyl dit destyds nie duidelik was of ’n gegewe entstof sou werk nie.

Madhi hou egter vol dat gevorderde mark-ooreenkomste wel ’n opsie was, en dat die regering daarvolgens sy geld sou terugkry as entstowwe nie doeltreffend is nie.

Hy reken Suid-Afrika gaan nou sukkel om in die volgende ses maande genoeg entstof te ontvang.

“Geld is nie meer ’n kwessie nie. Maatskappye gaan lank neem om hul produksie te vergroot, en die aanvanklike beperkte voorraad is uitgeloof aan ander lande wat vroegtydig ooreenkomste gesluit het.”

Intussen het politieke partye, vakbonde en organisasies die regering se entstofstrategie gekritiseer.

Die vakverbond Cosatu het in ’n verklaring Mkhize daarvan beskuldig dat hy “geslaap het in die aangesig van ’n dodelike pandemie”.

Die DA het op sy beurt bekend gemaak dat hy deur ’n hofaansoek die regering wil dwing op oop kaarte te speel oor sy plan vir entstowwe.

DA soek meer besonderhede

Siviwe Gwarube, DA-woordvoerder oor gesondheid, het in ’n verklaring gesê dat die DA ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ’n hofaansoek sal indien om meer besonderhede te kry.

“Die werklikheid is dat Sondagaand se voorlegging (oor die entstofplan) lankal moes gebeur het, en dit eenvoudig te vaag is vir die aanvanklike fase van entstof-onderhandelings wat oor die wêreld heen plaasvind.”

Gwarube sê die nieopenbaarmakingsooreenkomste wat die regering met farmaseutiese maatskappye onderteken het, mag nie die DA se taak verhinder om toesig te kan doen nie.

Volgens haar sal Mkhize 30 dae hê om op die aansoek te reageer deur ’n uitgebreide plan te verskaf wat onder meer kosteberekeninge en bewyse van onderhandelinge met maatskappye, asook die vordering daarmee, bevat.

Sy benadruk dat die besonderhede oor die regering se verkrygingsproses nodig is.

Waarom word SA agtergelaat?

“Die regering het verklaar dat daar van ’n gesentraliseerde aankoopstelsel gebruik gemaak sal word, wat erge vertragings kan veroorsaak as wanbestuur en korrupsie ter sprake kom.”

Dr. Frans Cronjé, hoof van die Instituut vir Rasseverhoudinge, sê Suid-Afrikaners is geregtig op meer besonderhede omdat ander lande volgens hom inligting aan hul burgers openbaar gemaak het.

“Suid-Afrika word agtergelaat terwyl gevorderde en ontwikkelende lande begin om hul bevolkings in te ent. As dit nie dringend gebeur nie, sal die menslike en ekonomiese tol van die virus katastrofies vererger word.”

Dr. Dirk Hermann, hoof van Solidariteit, sê hy verwelkom Mkhize se aankondiging dat die regering met die private sektor gaan saamwerk om ’n entstof te bekom.

Betrek mediese fondse by waardeketting

Mkhize het gesê dat die regering egter die alleenaankoper van entstowwe sal wees en dat mediese skemas, private hospitale en ander ondernemings sal help om die staat se entstowwe te subsidieer.

Volgens Hermann kan hulle nie bloot finansiers wees nie; hulle moet betrek word in die hele waardeketting, insluitende aankope en verspreiding.

“Die staat kan nie beheer, en die private sektor finansier nie. Die staat het ’n swak bestuursrekord. Die regering het tydens die pandemie reeds oor en oor bewys dat hy nie bevoeg is om leiding te neem nie.

“Dit is hierdie onbevoegdheid wat tot die vertraging in die verkryging van die entstof aanleiding gegee het, en die regering moet so ver as moontlik van hierdie proses af weggehou word,” sê Hermann.

Meer oor:  Instituut Vir Rasseverhoudinge  |  Shabir Madhi  |  Covid 19  |  Korona  |  Entstof  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.