Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
449 leerlinge, onnies in W-Kaap het virus onder lede

Daar is tans byna 450 positiewe koronavirus-gevalle onder onderwysers en leerlinge in die Wes-Kaap.

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), sê daar is 314 gevalle onder leerlinge, 135 gevalle onder onderwysers en 13 gevalle onder ander personeel wat nie met onderrig gemoeid is nie.

Brent Walters, hoof van die WKOD, het Maandag in ’n skrywe aan hoofde, onderwysers en ander personeel oor stygende infeksies gedurende die derde vlaag gesê die toename in infeksies word gedryf deur byeenkomste soos begrafnisse, troues en sportbyeenkomste wat buite skoolure plaasvind.

Debbie Schäfer Foto: Lindile Mbontsi

Volgens hom moet daar deurentyd gehoor gegee word aan gesondheidsmaatreëls in en buite die skool en ouers en onderwysers moet met kinders daaroor praat.

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys, het Dinsdag in ’n verklaring gesê noudat die Wes-Kaap in die derde vlaag is, sien hulle al hoe meer dat die virus op gemeenskapsvlak oorgedra word en dit raak weer skole.

Hoewel die gevalle by skole aangemeld word, het die departement van gesondheid aangedui dat die gevalle gekoppel word aan sosiale byeenkomste, eerder as skoolbywoning. Dit is dieselfde patroon wat tydens die tweede vlaag gesien is.

Sy sê hul veiligheidsmaatreëls was doeltreffend om te verhoed dat die virus in skole versprei en dit moet deurlopend gevolg word. Nietemin word onderrig ontwrig wanneer ’n geval deur ’n skool aangemeld word (al is die virus waar ook al opgedoen). Gebiede in die skool moet dalk afgesper en ontsmet word en die individue moet hulself afsonder. Dit beteken dat waardevolle onderrig- en leertyd verlore gaan en dra by tot stresvlakke.

Sy doen ’n beroep op leerlinge om die goue reëls by skole te volg (dra ’n masker, hou ’n gesonde afstand en moenie naby iemand staan wat nie ’n masker dra nie, vermy groot byeenkomste, veral waar slegte ventilasie is en was jou hande gereeld). Sy het ouers ook gevra om toe te sien dat hul kinders nie onnodige byeenkomste bywoon nie. Mense kan nie bekostig om hul waaksaamheid buite skoolure te verslap nie. Hoe hoër die infeksies, hoe hoër is die kans vir strenger inperkings.

Sy het ook na Walters se skrywe verwys waarin hy vra dat dié reëls aan personeellede, leerlinge en skoolgemeenskappe oorgedra moet word.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Leerlinge  |  Covid-19  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.