Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘4de vlaag sal kom, ondanks inentings’ – kenners

Die regering beoog om teen die einde van die jaar 35 miljoen Covid-19-entstofdosisse toe te dien, maar kenners reken dit sal nie die vierde vlaag kan keer nie.

Kenners is dit wel eens dat die vierde vlaag as gevolg van inentings nie so verwoestend soos die vorige drie sal wees nie.

Nicholas Crisp, adjunkdirekteur-generaal van die departement van gesondheid, sê die regering beoog om met die inenting van soveel mense as moontlik die hospitaliserings en sterftes in die vierde vlaag te verminder.

Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie se wetenskapsraad, sê ’n vierde vlaag is onvermydelik.

Prof. Salim Abdool Karim Foto: Verskaf

Volgens Abdool Karim word mense tans vir individuele belang ingeënt.

“Dit beskerm teen ernstige siekte en dood. Tydens die vierde vlaag sal ons wel minder sterftes sien en minder mense sal in die hospitale beland. Dit sal dus die druk op die gesondheidstelsel verlig.”

Abdool Karim verduidelik dat die Pfizer-entstof 95% beskerming bied, wat beteken dat een uit elke 20 mense simptome sal hê. Die Johnson & Johnson-entstof bied 64% beskerming, wat beteken dat een uit elke drie mense simptome sal toon. “Niemand sal egter ernstige simptome toon nie.”

Hy sê dit is nog onduidelik in watter mate die entstowwe oordraagbaarheid keer.

Een van die grootste veranderlikes wat die impak van die vierde vlaag sal bepaal, is die voorkoms van ’n nuwe variant.

Abdool Karim sê opvolg-inentings word juis nou om dié rede ontwikkel. “Dit verbreed jou immuniteit om jou ook teen variante te beskerm.”

Hy sê daar word tans aan ’n pan-koronavirus-entstof gewerk. Wetenskaplikes kyk na die gemeenskaplike faktor van al die variante om die entstof te ontwikkel. Dit sal dus teen alle variante doeltreffend wees.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19-entstowwe, sê die vierde vlaag word in Desember verwag.

“Dit is moeilik om die effek daarvan te bepaal. Die derde vlaag het ons ook onkant betrap. Die feit dat dit in die somer is en dat die meeste universiteite en skole gesluit is, sal ook die effek saam met die entstowwe verminder,” sê Schoub.

Prof. Shabir Madhi Foto: Daily Sun

Prof. Shabir Madhi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die land kan selfs ’n vyfde en sesde vlaag verwag.

“Die virus gaan vir die res van ons lewens met ons wees. Ons sal tussen 80% en 90% van mense oor die ouderdom van 35 moet inent vir die virus om tydens die vierde vlaag ’n kleiner effek te hê. Ons moet hier veral op mense met onderliggende siektes fokus,” sê Madhi.

Die derde vlaag is egter tegnies nog nie iets van die verlede nie, berig Meghan Lawrence.

Popo Maja, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die positiwiteitskoers moet eers onder 10% wees voordat ’n mens kan sê die derde vlaag is verby.

Volgens die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes (Nios) was die positiwiteitskoers Sondag nog 26%.

Meer oor:  4De Vlaag  |  Koronavirus  |  Nicholas Crisp  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.