Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
5 buitelanders met Covid-19 in kwarantyn in die Vrystaat

Die getal mense in die Vrystaat wat positief vir die korona-virus getoets het, het Vrydag met vyf toegeneem tot altesame sewe in dié provinsie.

Al sewe dié gevalle, wat Vrydag op ’n mediakonferensie deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, bevestig is, is in Bloemfontein.

Die getal mense oor die land heen wat positief getoets het, het sedert gister tot 202 toegeneem.

Nie een van dié 202 mense is ernstig siek en word in ’n hospitaal behandel nie. Daar is ook tot dusver geen sterfgevalle in die land nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid (middel), Vrydag op besoek aan die Brandwag Primêre Skool in Bloemfontein saam met Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid (links), en Jacob Moloi, distriksdirekteur van die Vrystaatse onderwysdepartement. Foto: Mlungisi Louw

In die Vrystaat is vyf van die gevalle buitelanders uit onderskeidelik Texas in Amerika, Frankryk en Israel wat vroeër in Bloemfontein aangekom het vir ’n kerkkonferensie. Hulle is in ’n gastehuis in die stad in kwarantyn, saam met die gastehuis se personeellede.

Mkhize sê ’n taakspan is reeds saamgestel om die konferensiegangers – tussen 200 en 300 mense – waarmee die buitelanders in kontak gekom het, op te spoor en siftingstoetse op hulle te doen ten einde die verspreiding van die virus te beperk.

Die twee ander mense in die Vrystaat wat positief getoets het, is Suid-Afrikaners.

Een van hulle, ’n bejaarde man, het sowat ’n week gelede ná ’n reis in Italië in die Rosestad aangekom.

Die ander geval, ’n gesondheidswerker en die ma van twee kinders, het nie gereis nie. Albei die mense is in tuis-kwarantyn.

Mkhize, wat saam met verskeie Vrystaatse LUR’e en departementshoofde die media Vrydag toegespreek het, het ook vroeër die Brandwag Primêre Skool in Bloemfontein besoek om sowat 600 ouers en leerlinge, asook personeellede, toe te spreek nadat ’n ouer positief vir Covid-19 getoets het.

Die sowat 600 ouers en leerlinge het hier siftingstoetse ondergaan.

Van links is Montseng Tsiu, Vrystaatse LUR vir gesondheid, dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid en Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, op ’n mediakonferensie in Bloemfontein oor die jongste stand van Covid-19.Foto: Mlungisi Louw

Mkhize het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om saam te werk om die virus se verspreiding te beperk en ook om nie vals inligting te versprei nie.

“In plaas daarvan, lees na oor die virus, leer kinders hoe om higiëne toe te pas. Ons moet nou na daadwerklike aksie oorgaan om die virus te beperk. Hou by die maatreëls.”

Hy het gesê dit is belangrik om die kurwe van verspreiding af te plat sodat nie te veel mense tegelykertyd siek word nie en die gesondheidstelsel dus in staat is om dit te hanteer.

Mkhize het ook benadruk dat hoewel sowat 60% van die bevolking moontlik die virus kan kry, nie almal ernstig siek sal word nie.

Sisi Ntombela, premier van die Vrystaat, het op die mediakonferensie gesê alle groot byeenkomste, insluitend die Macufe-fees en die Blommefees, in die provinsie is reeds afgestel.

Volgens Ntombela gaan die begrotings hiervoor aangewend word in die stryd teen die virus.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, groet personeellede met ’n armdruk by die Brandwag Primêre Skool tydens sy besoek aan die skool.Foto: Mlungisi Louw

Die provinsiale regering beoog om genoeg gesigmaskers, handskoene, en handreinigers aan te koop, en ook boorgate te sink.

Sy sê dit is nie ’n geheim dat die provinsie onder droogte en werkloosheid gebuk gaan nie en juis daarom moet almal saamwerk om die virus te bekamp.

Meer oor:  Vrystaat  |  Koronavirus  |  Kwarantyn  |  Buitelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.