Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
500 000 onnies kry die entstof

’n Halfmiljoen onderwysers en onderwyspersoneel sal teen 28 Junie ingeënt word teen Covid-19.

Dít is die plan volgens ’n vertroulike dokument wat Rapport by ’n onberispelike bron gekry het. Dié dokument is glo Vrydag op ’n vergadering deur dr. Granville Whittle, waarnemende direkteur-generaal (DG) van basiese onderwys, aan onderwysvakbonde voorgehou. Soos Rapport verstaan, sal ’n aankondiging daaroor deur die loop van die naweek kom.

Luidens die dokument het die departement van gesondheid 500 000 dosisse van die Johnson & Johnson-entstof vir die onderwyssektor geoormerk.

Sowat 2 miljoen dosisse van dié entstof is by Aspen se aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth), maar is weens buitelandse regulatoriese uitdagings nog nie vir gebruik in Suid-Afrika uitgereik nie. ’n Aankondiging hieroor is die naweek al verwag.

Intussen is die Junie­eksamen vir matrieks ook geskrap om skole glo meer tyd te gee om seker te maak die kurrikulum word volledig gedek.

Die besluit om mense in die onderwyssektor in te ent volg ná toenemende druk van vakbonde en kenners dat hulle ingeënt moet word voordat alle laerskoolleerlinge op 26 Julie heeltyds terugkeer skool toe. Die plan is om onderwysers en onderwyspersoneel soos administratiewe werkers, bestuurders en skoonmakers ouer as 40 in te ent. Die departement van basiese onderwys (DBO) het teen druktyd nog nie die inhoud van die dokument aan Rapport bevestig nie.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU), sê hy het Maandag namens al vyf onderwysvakbonde aan dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, hieroor geskryf en gevra dat onderwysers ’n prioriteit vir inentings moet wees, veral diegene ouer as 50 jaar. “Ons is baie bly dat hulle geluister het.”

Hulle is optimisties oor die moontlike inentingsprogram. “Maar onthou: Dit wat in ’n dokument staan en dit wat regtig gaan gebeur, is verskillende dinge.”

Die DBO het die afgelope week in ’n voorlegging aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys gesê hulle sal van Julie ’n risiko-aangepaste gedifferensieerde strategie gebruik waarvolgens skole in vier vlakke ingedeel sal word. Skole in hoërisiko-omgewings met hoë infeksietellings sal gesluit bly, terwyl dié in laerisiko-omgewings met lae infeksietellings oop sal bly.

Dit sal afhang van dié vlak of leerlinge almal mag terugkeer skool toe en of hulle steeds ’n roteringstelsel sal moet volg.

Daar is kommer dat dié strategie sommige skole net nog verder sal laat agter raak met hul akademiese programme.

Klopper sê oor die algemeen is dit ’n beter benadering omdat die DBO almal dan nie meer oor dieselfde kam sal skeer nie.

Intussen is die Junie-eksamen vir matrieks ook geskrap om skole glo meer tyd te gee om seker te maak die kurrikulum word volledig gedek.

Klopper en onderwysers met wie Rapport gepraat het, het gesê dit het verlede jaar ook gebeur. Rapport weet egter van skole wat steeds gaan “eksamen” skryf, al is dit informeel. Dié skole wil die matrieks so help voorberei vir hul eksamens later vanjaar.

Maar terwyl die getal Covid-19-infeksies weer begin styg, meen al hoe meer onderwysers skole moet eerder gesluit word.

’n Matriekonderwyser by ’n groot skool in Pretoria gaan so ver as om te sê sy weet nie wat Angie Motshekga, die minister, besiel nie. “Ek weet nie hoekom maak hulle nie skole toe nie! Kinders is bang, daar toets elke dag nuwe kinders positief. Die afgelope week was chaos – dis asof die virus nou begin stoomroller het en niks en niemand bly uit sy pad nie.”

Dawie Kriel, die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp se hoof, het die afgelope week op Facebook ’n desperate pleidooi aan ouers gerig om geen partytjies toe te laat nie. Kriel sê vyf matrieks is weens ’n “40 days-partytjie” positief getoets vir die virus en hy moes daarna tot 40 matrieks huis toe stuur om te isoleer. Twee van dié skool se onderwysers is in die hospitaal met Covid-19.

“Ek kan nie eintlik my teleurstelling verwoord as ek dink hoe onverantwoordelik ons leerlinge en ook ons ouers is nie. As u dink dit was die regte ding om u kind na 40 days te stuur waar kinders sonder maskers met mekaar gekuier het, dink ek u moet so ’n klein bietjie stilte vat en dink waarmee u besig is.”

Meer oor:  Chris Klopper  |  Dawie Kriel  |  Granville Whittle  |  Onderwysers  |  Entstof  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.