Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
5,3% van SA bevolking volledig ingeënt

Slegs 5,3% van die bevolking van Suid-Afrika is al volledig teen die koronavirus ingeënt.

Dit sluit nie mense in wat slegs een dosis van die Pfizer-inenting ontvang het nie, maar wel gesondheidswerkers wat al sedert Februarie vanjaar deur die Sisonke-program ingeënt word.

Daar is Dinsdag 191 729 dosisse toegedien en volgens dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, is dit nog ver van die teiken van 300 000 per dag wat deur die president gestel is.

Coetzee sê die toedienings van die tweede dosis van die Pfizer-entstof sloer na haar mening ook te lank.

“Die inenting van die publiek het op 17 Mei begin en dit beteken dat die toediening van die tweede dosis aan die begin van Junie moes begin. Hulle is nie naastenby waar hulle moet wees nie,” sê Coetzee.

As daar gekyk word na die getal mense wat minstens een dosis van ’n entstof gekry het, staan Suid-Afrika op 10,8%. Dit is laag in vergelyking met ander lande soos Brittanje en die VSA wat tans op onderskeidelik 69,08% en 57,45% staan, volgens ourworldindata.org.

Suid-Afrika vaar wel beter as sy buurlande, met Botswana en Namibië met onderskeidelik 9,69% en 6,4% van hul bevolking wat al minstens een dosis van die entstof ontvang het.

Hoe vaar die provinsies?

David Makhura, Gautengse premier, het Vrydag gesê dié provinsie wil graag 100 000 mense per dag inent.

Die provinsie het Dinsdag ver onder die teiken presteer met die toediening van 50 625 inentings. Gauteng loop egter steeds voor met nagenoeg 2 miljoen dosisse wat reeds hier toegedien is. Die provinsie het wel die grootste bevolking in die land.

Die inenting van die publiek het op 17 Mei begin en dit beteken dat die toediening van die tweede dosis aan die begin van Junie moes begin. Hulle is nie naastenby waar hulle moet wees nie.

Die Wes-Kaap loop tans voor wat die persentasie van die bevolking betref wat al ’n inenting ontvang het. In die Wes-Kaap het 17,1% en Gauteng 12,3% van hul bevolking al ’n inenting ontvang. Met 379 606 mense het Mpumalanga nog die minste inentings toegedien, oftewel 8% van sy bevolking.

Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, wil dié provinsie graag 15 000 mense per dag inent, maar wissel dit tans tussen 7 000 en 13 000.

Die provinsie beoog om minstens 1,9 miljoen van sy 2,9 miljoen inwoners in te ent, aldus Mvambi.

Luidens ’n onlangse studie deur kenners van die Universiteit Stellenbosch en Universiteit van Kaapstad raak die voorkoms van entstofhuiwerigheid in die land kleiner.

“As ons entstofaanvaarding definieer as mense wat sterk instem (om die entstof te kry), ’n mate van instemming het of dié wat reeds die entstof gekry het, dan het die aanvaarding van 71% in Februarie en Maart toegeneem tot 76% in April en Mei,” lui hul bevinding.

’n Ander studie deur Afrobarometer wys dat sewe uit tien Suid-Afrikaners min tot geen vertroue in die regering se vermoë het om te verseker dat die entstowwe veilig is.

Luidens dié data sal 42% van die deelnemers hoogs waarskynlik hulself nié laat inent nie, terwyl 12% sê dit is ietwat onwaarskynlik.

Wie word volgende ingeënt?

Aanlyn registrasies asook die inenting vir mense van tussen 18 en 34 jaar oud word op 1 September oopgestel.

Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê mense onder 18 sal nie ingeënt word nie. Dit stem ooreen met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyn dat kinders van onder 18 nie as ’n prioriteit gesien word nie omdat kinders nie so ernstig siek word nie.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, sê ouer mense word geprioritiseer omdat hulle ernstig siek word, maar nie kinders nie.

Hy sê wel as daar ’n oormaat entstof is, sal daar oorweeg word om mense van onder 18 in te ent. Die land het egter tot Woensdag nog ’n tekort aan entstof ondervind.

Meer oor:  Inenting  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.