Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het teen Donderdag 67 mense in Suid-Afrika vir die nuwe koronavirussiekte, wat nou as Covid-19 bekend staan, getoets.
Sinenhlanhla Jimoh, Nios se woordvoerder, sê sy kan bevestig dat 67 mense al negatief vir Covid-19 getoets het en daar steeds geen gevalle van die virus in Suid-Afrika is nie.
“Ons kan bevestig dat Suid-Afrika nog geen bevestigde geval van Covid-19 het nie en indien daar ’n geval is, sal die nasionale departement van gesondheid, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en Nios mense daarvan in kennis stel,” sê Jimoh.
Sy verduidelik dat Nios verseker die laboratoriums in Suid-Afrika gebruik dieselfde metodes as ander staatslaboratoriums wêreldwyd wanneer monsters van mense geneem word om vir Covid-19 te toets. Daar is ook verskeie beheermaatreëls in plek gestel om te sorg dat elke toets behoorlik gedoen word.
Jimoh sê Nios bied deurentyd opleiding om seker te maak mediese personeel in Suid-Afrika en op die Afrika-vasteland is voorbereid. Die instituut het tot dusver 650 mediese personeellede opgelei om die diagnose van Covid-19 te bevestig en hoe om die verspreiding daarvan te keer.
Covid-19 het reeds in Desember 2019 in Sentraal-China in die stad Wuhan uitgebreek, waarna dit na meer as 20 lande versprei het.
Die getal gevalle van mense wat die virus wêreldwyd opgedoen het, het Vrydag op 65 191 gestaan, terwyl 1 486 mense wêreldwyd al aan Covid-19 dood is.