Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
67 mobiele toetssentrums landwyd ontplooi
Zweli Mkhize, minister van gesondheid, by Twin City in Heidedal in Bloemfontein waar hy Donderdag saam met Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en verskeie Vrystaatse LUR’e ’n tent besoek het waar daar begin is met toetse en skandering vir die gevreesde Covid-19-virussiekte. Foto: Mlungisi Louw

Altesaam 67 mobiele laboratoriums word nou landwyd ontplooi om vir die Covid-19-virussiekte te toets.

Dit is in ooreenstemming met die regering se strategie om met massatoetsing proaktief op te tree en nie te wag totdat iemand eers in ’n hospitaal beland en dan te reageer nie.

So het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, by Twin City in Heidedal in Bloemfontein gesê waar hy Donderdag ’n reuse-markiestent vir toetsing saam met Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, en verskeie LUR’e besoek het. Die tent word voortaan gebruik vir die skandering en toetsing vir dié gevreesde siekte.

Nog ’n tent is ook in die Caleb Motshabi- informele nedersetting by Bloemfontein opgerig.

Die Vrystaat se syfer het Woensdag op 77 gestaan.

Van die 77 was 69 in Mangaung, ses in Thabo Mofutsanyana, een in Lejweleputswa, en een in die Fezile Dabi-distrik.

Volgens Mkhize sal geen onbevoegde persoon die toetsings behartig nie.

“Die mense wat die skandering en toetsing vir die Covid-19-virussiekte doen, is almal professionele en goed opgeleide mense.”

Mkhize sê verder dit is te gou om nou al te sê of die 21 dae se staat van afsondering voldoende gaan wees en of dit verleng sal moet word.

Mkhize Heidedal
Zweli Mkhize, minister van gesondheid, by die markiestent vir toetsing by Twin City in Heidedal, Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

“Ons wil nie hê julle moet nou daarop fokus nie. Fokus eerder daarop om binnenshuis te bly, gesonde afstande tussen mense te handhaaf by winkelsentrums en ander plekke waar noodsaaklikhede afgehaal moet word en om gereeld hande te was.”

Mkhize sê met die Vrystaat se grense met Lesotho wat gesluit is en met mense wat tuis bly, behoort daar ’n afname in die groeikoers van die verspreiding te kom, maar in dié stadium is dit nog te gou om te sê of dit die geval is.

“Die Covid-19-virussiekte is ’n werklikheid en mense moet die erns hiervan besef.”

Mkhize was Donderdag in ’n intensiewe vergadering met die Vrystaatse provinsiale regering, waarna hy oor Skype met pres. Cyril Ramaphosa se bevelsraad oor die omstandighede in die Vrystaat gepraat het.

Hy het ’n beroep op inwoners gedoen om nie mense te stigmatiseer wat die Covid-19-virussiekte opgedoen het nie omdat enigiemand dit kan kry.

“Dit is nie ’n siekte net vir wit of net vir swart, of net vir rykes of armes of net vir oues nie. Kinders kan ook die Covid-19-virussiekte opdoen en dit is verkeerd om te dink dat net bejaardes die virussiekte kry.”

Die minister het ook aan die media gesê ’n kaart word nou opgetrek wat aandui waar almal woon wat positief getoets is sodat daar vasgestel kan word met wie hulle almal in aanraking was.

“Die getal positiewe gevalle vermeerder van mense wat op ’n gebedsbyeenkoms en ontbyt in die Divine Restoration Church in Bloemfontein was,” het hy gesê.

Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Sisi Ntombela by Twin City in Heidedal. Foto: Mlungisi Louw

Ntombela was vroeër die dag op ’n parade van die polisie en weermag by Twin City waar Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, gepraat het.

Sy het daar gesê dit was ons nou beleef, is nie ’n droom nie.

“Dit is die werklikheid en as ons nie versigtig gaan wees nie, is ons almal weg.”

Sy het ’n ernstige pleidooi tot die weermag en polisie gerig om verenig te staan in die “onsigbare oorlog” wat gewen moet word.

“Julle is ons enigste hoop. Asseblief, moenie tou opgooi nie. Moenie moed verloor nie. Julle moet die ernstige oorlog vir ons wen. Julle gaan beledig word. Maar ek pleit by julle om nie moed op te gee nie en saam te veg om die oorlog te wen.”

* Mkhize is deur die media gevra oor ’n man wat glo positief vir die siekte getoets is wat Donderdag uit ’n hospitaal in Virginia in die Vrystaat sou ontsnap het. Hy het gesê hy wil nie nou iets hieroor sê nie, maar sal later wanneer hy meer inligting oor die saak het hierop reageer.

Meer oor:  Sisi Ntombela  |  Zweli Mkhize  |  Vrystaat  |  Heidedal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.