Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
7-jarige in erge pyn 'kry min hulp'

Die nagmerrie-ervaring van ’n sewejarige meisie wat ná ’n week en besoeke aan drie staatshospitale steeds in erge pyn en sonder die nodige hulp was, gaan deur die Vrystaatse departement van gesondheid ondersoek word.

Ziané van der Merwe (7) Foto: Verskaf

Ziané van der Merwe se ouers vertel egter dit was nie net dat hul dogter nie gehelp is nie; hulle is ook uiters sleg behandel deur hospitaalpersoneel en was geskok oor die vuil toestande in die hospitale.

“Ziané het haar armpie Maandag by die dagsorg in Parys gebreek toe sy oor speelgoed struikel en teen ’n blombak val. Sy is onmiddellik na die staatshospitaal geneem,” sê Rudi Wessels, haar pa, by wie sy woon.

Haar ma, Tharina van der Merwe, woon op Ermelo.

“By die staatshospitaal in Parys het hulle haar arm net in ’n verband gesit en haar met pynmedikasie huis toe gestuur. Sy moes die volgende dag terugkom vir X-strale. “Dinsdag het hulle tydelike gips opgesit en haar na die Kroonstad-hospitaal verwys omdat hulle nie in Parys kon opereer nie. Twee bene in die arm was gebreek.”

Ziané van der Merwe (7) in haar hospitaalbed in die Pelonomi-hospitaal, waar sy dae lank onverrigter sake op ’n operasie gewag het. Foto: Verskaf

Wessels sê sy werk moes hom help met brandstof- en kosgeld om in Kroonstad te kom.

“Daar moes ons Dinsdag by die Boitumelo-hospitaal ure lank sit en wag terwyl sy baie pyn verduur het. Hulle het bloed getrek en haar so seergemaak dat haar linkerpols geswel en blou was.

“Ons moes weer ure lank wag terwyl hulle ’n oorplasing na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein gereël het omdat daar ook nie in Kroonstad ’n chirurg was nie.”

Hy sê die badkamers by Boitumelo was verskriklik vuil en hy is swak behandel.

Rudi Wessels het dié foto geneem van ’n stort in die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad. Foto: Verskaf
’n Wasbak in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein waarin ’n gebruikte drup lank gelê het, volgens Rudi Wessels. Foto: Verskaf
Die bank in die Pelonomi-hospitaal waarop Rudi Wessels moes slaap, was vol bloed, sê hy. Foto: Verskaf

“Hulle wou nie gehad het ek moes by my kind oorslaap nie en hulle het geweier dat ek haar eie beddegoed en teddiebeer vir haar gee. Ek het die hele nag op en af in die hospitaal geloop en kort-kort gaan kyk of sy orraait is.

“Die susters het gesê omrede ek ’n man is, mag ek nie by my kind wees nie omdat daar meerendeels net vroue in daardie saal was.”

Hulle is Woensdagmiddag per ambulans na Pelonomi gebring.

Intussen het Van der Merwe van Ermelo af ook na Bloemfontein gekom.

“Ons dogtertjie is van Woensdag af eers 15 en toe 20 uur sonder kos gehou met die vals belofte dat sy geopereer gaan word – waarna hulle telkens aan die einde van die dag kom sê het sy kan maar weer eet omdat sy nie geopereer gaan word nie. Dit het ons moed gebreek,” sê Van der Merwe.

“Ek en Rudi het mekaar afgelos om by Ziané te waak en die personeel het Rudi eendag hardhandig by die saal uitgesmyt omdat hulle ook nie wou hê dat hy by sy kind mag slaap nie. Ons dogtertjie het aanmekaar gegil ‘bring terug my Pappa, bring terug my Pappa’,” sê Van der Merwe.

Ziané van der Merwe (7) en haar pa, Rudi Wessels. Foto: Verskaf

Sy sê daar is oral bloed op Pelonomi se vloere en die badkamers is “sieklik vuil” en sonder warm water.

“Die personeel was in die algemeen arrogant, onprofessioneel en onbeskof.”

Die ouerpaar sê hulle het Ziané Saterdagaand onverrigter sake uit die hospitaal verwyder nadat ’n dokter die telefoon in hul regsverteenwoordiger se oor doodgedruk het.

“Ons het aan hulle gesê ons het ’n weldoener gekry wat nou vir ’n private operasie sal betaal omdat hulle nie wil help nie, waarop een dokter ’n verwysing na die private chirurg gegee het. Ons sien dié chirurg Maandag.

“Ander weldoeners ontferm hulle intussen oor ons en gee aan ons kos en verblyf op ’n plaas 96 km buite Bloemfontein.”

Dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, het by navraag gesê hulle gaan die saak ondersoek en ook die hospitaal se kant hoor om tot die kern van die saak deur te dring.

“Dit (wat hier gebeur het) is onaanvaarbaar,” het hy bygevoeg.

Meer oor:  Parys  |  Vrystaat  |  Behandeling  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.