Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
75% van onnies in Wes-Kaap vir inenting geregistreer

Tot 75% van onderwysers in die Wes-Kaap het reeds ingestem en geregistreer om ingeënt te word.

So het Debbie Schäfer, LUR van onderwys in die Wes-Kaap, Woensdag gesê terwyl die eerste 50 onderwysers gereed gesit het om by ’n sentrum in Pinelands teen Covid-19 ingeënt te word.

Die inentings van onderwysers het Woensdag begin en die Wes-Kaap het tot dusver 26 400 dosisse entstof ontvang wat oor die provinsie heen versprei word.

Eugenia Paulo-Goagoses, onderwyseres aan die Masiphathisane Primary School aan die Weskus, was die eerste leerkrag in die Wes-Kaap wat ingeënt is. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images

“Ons wil 100% van die provinsie se onderwysers inent,” sê Brent Walters, hoof van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD).

Hy het die 50 onderwysers en ondersteuningspersoneel bedank dat hulle die eerstes is wat regstaan.

Eugenia Paulo-Goagoses, onderwyseres by die Masiphathisane Primary School in Vredenburg aan die Weskus, was die eerste Wes-Kaapse onderwyser wat ingeënt is.

“Ek is baie bevoorregd en bly dat ek nou ’n bietjie samesweringsteorieë kan weerlê,” sê sy.

“Dit was nie eens seer nie!”

Anton Mostert, skoolhoof van die Laerskool Panorama in Welgelegen sê hy was senuagtig, maar opgewonde om die inenting te kry en sien daarna uit dat die skool weer op sy volle kapasiteit kan funksioneer.

Mostert sê al 79 onderwysers by sy skool het vir die inenting geregistreer en sal dit kry.

“Dit beskerm ons personeel en stel ouers en kinders gerus,” sê hy.

Ek is baie bevoorregd en bly dat ek nou ’n bietjie samesweringsteorieë kan weerlê.
Vyftig onderwysers sit by ’n sentrum in Pinelands, Kaapstad, gereed om ingeënt te word. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images
Anton Mostert, skoolhoof van die Laerskool Panorama, kry sy inenting. Foto: Brenton Geach/Gallo Images

Hy sê hoewel die ouers van die meeste leerlinge toegang tot tegnologie het, was dit ’n uitdaging om die kurrikulum te voltooi.

Sarah Capstick-Dale, onderwyseres in Engels by die Good Hope Seminary High School in die middestad, sê sy hoop die inenting sal help om dinge weer na normaal te laat terugkeer, veral vir leerlinge wat nie tot aanlyn leergeleenthede toegang gehad het nie.

Basil Manuel, hoof van die onderwysersvakbond Naptosa, sê hoewel die meeste onderwysers reeds regstaan om die inenting te kry, is daar steeds sommige wat skepties is.

“Ons werk daaraan om almal te oortuig om hulle te laat inent. Ons sê vir ons lede óns is ’n geleentheid gegun en ons moet dit aangryp.”

Naptosa het in samewerking met verskeie ander vakbonde en groepe soos die SA Onderwysunie, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie en die nasionale onderwysersunie ’n boodskap in al 11 amptelike landstale uitgestuur om onderwysers aan te moedig om te registreer.

Vanessa le Roux, stigter van die groep Ouers teen die Heropening van Skole wat nou bekend staan as Parents for Equal Education SA (PEESA), sê onderwysers kan nie gedwing word om ingeënt te word nie en behoort nie gestraf te word as hulle verkies om dit nie te doen nie.

Faseega Solomon, onderwyseres aan die Manenberg High School en lid van die vakbond Sadtu, word ingeënt. Foto: Brenton Geach/Gallo Images

Sy sê onderwysers is ontevrede oor onlangse verklarings deur die nasionale departement van basiese onderwys dat onderwysers met onderliggende siektes wat nie die inenting kry nie, waarskynlik nie toegelaat sal word om verder van die huis af te werk nie. Le Roux sê daarmee dwing die departement onderwysers prakties gesproke om die inenting te kry.

“Daar is onsekerheid en ’n gebrek aan vertroue by sommige onderwysers,” sê sy.

Manuel sê onderwysers moenie uit die oog verloor dat hulle betaal word om ’n werk te doen en dat hul kontrakte hul daartoe verbind nie. Hy sê regshulp oor die kwessie is reeds ingewin en dit is duidelik dat onderwysers nie by die huis sal kan bly met volle betaling nie.

Die 26 400 dosisse entstof wat reeds in die provinsie ontvang is, word tussen Woensdag en Vrydag na die 29 plekke versprei waar inentings gedoen gaan word. Daar is twee lokale in die Kaapse metrogebied en die res is in die Sentraal-Karoo, die Tuinroete, die Overberg, Weskus en Kaapse Wynland. Die onderwysdepartement beoog om 55 210 dosisse toe te dien.

Die WKOD sê die name of liggings van die lokale word nie amptelik bekend gemaak nie omdat dit moontlik verwarring kan veroorsaak vir mense bo 60 wat by ander lokale ingeënt word.

Skole word in kennis gestel na watter perseel hul personeel moet gaan en op watter dag en al die personeel van daardie skool gaan na dieselfde lokaal.

Slegs onderwysers word tussen Vrydag en 8 Julie by hierdie lokale, spesiaal vir die onderwyssektor, ingeënt.

Meer oor:  Debbie Schäfer  |  Wes-Kaap  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19  |  Entstowwe  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Onderwysers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.