Brittanje het reeds 77 gevalle van die hoogs aansteeklike 501Y.V2-variant van die koronavirus in dié land geïdentifiseer, het Matt Hancock, Britse minister van gesondheid, Sondag gesê.
Hy het mense in Brittanje steeds aangemoedig om die inperkingsmaatreëls in dié land streng na te volg as die beste voorsorgmaatreël teen Brittanje se eie en hoogs gevaarlike variant van die koronavirus.
Al 77 gevalle hou verband met reise na Suid-Afrika en die betrokke mense word onder observasie gehou, sowel as 9 gevalle van die Brasiliaanse variasie van die koronavirus.
Prof. Anthony Hardnen, adjunkhoof van die wetenskaplike komitee oor immunisering en verbonde aan die Universiteit van Oxford, sê die Suid-Afrikaanse (501Y.V2) en Brasiliaanse variante is kommerwekkend omdat bestaande Covid-19-entstowwe moontlik nie doeltreffend teen die mutasies sal wees nie.
“Die nuwe variante oorsee is regtig kommerwekkend. Die Suid-Afrikaanse en Brasiliaanse Amasone-variante . . . daar is sprake dat die entstof nie dié variante sal kan vasvat nie,” het hy op SkyNews gesê, en bygevoeg dat nuwe variante orals ter wêreld kan kop uitsteek.
Brittanje het die hoogste sterftesyfer – amper 100 000 – weens Covid-19 in Europa en hospitale word oorval met mense wat ernstig siek is weens die koronavirus.

Matt Hancock, Britse minister van gesondheid. Foto: Reuters
Volgens die Britse regering is die hoë aanstekingskoers te wyte aan ’n hoogs aansteeklike variant wat eers in die suidooste van Engeland geïdentifiseer is en nou in die meeste gebiede voorkom. Dit is juis weens dié variant dat strenger inperkingsmaatreëls in Januarie aangekondig is.
Boris Johnson, Britse premier, het Vrydag gesê die variant van die virus wat in Engeland voorkom, mag verbind word met die hoër sterftesyfer in Engeland, hoewel wetenskaplikes gesê het bewyse hiervoor is nog uitstaande.
Hancock het Sondag gesê hoewel wetenskaplikes dink die variant in Engeland is meer dodelik, “sommige het verskillende ramings van sowat 10 persent meer dodelik tot selfs meer, is hulle nie seker hoeveel dodeliker die variant van die virus is nie”, het Hancock op SkyNews gesê.
“Vir ons maak dit nie saak nie, wat wel saakmaak is dat ons die virus in bedwang bring en die enigste manier om dit te doen is om sosiale kontak te vermy en die inperkingsmaatreëls te volg,” het hy gesê. – Reuters