Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eet maar jou vleis, sê kenners

Kenners lug verwoed hul mening sedert ’n taakspan van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Maandag gesê het verwerkte vleis veroorsaak kanker, en rooivleis waarskynlik ook.

Veral Twitter-gebruikers het die nuus sleg ontvang: Die hutsmerke #FreeBacon, #Bacongeddon en #JeSuisBacon was twee dae van die gewildstes op die sosiale netwerk, berig Reuters.

Die WGO se internasionale agentskap vir kankernavorsing (IARC) in Frankryk het meer as 800 bestaande studies oor die verband tussen vleis en kanker ontleed. Op grond hiervan het die navorsers beslis verwerkte vleis is “karsinogies vir mense” – in dieselfde groep as onder meer alkohol, tabakrook en asbes; en rooivleis “waarskynlik” ook.

Hierdie klassifikasie is net ’n aanduiding van hoe sterk die bewyse is dat iets kanker veroorsaak, nie hoe sterk die stof se vermoë is om kanker te veroorsaak nie, het die organisasie Cancer Research UK gesê.

Die bewyse dat verwerkte vleis en tabakrook karsinogenies is, is dus ewe sterk, maar die risiko verskil.

Volgens Cancer Research UK veroorsaak tabakrook 86% van alle longkankers, terwyl verwerkte vleis en rooivleis 21% van dermkankers veroorsaak.

“Die IARC sê nie rooi en verwerkte vleis as deel van ’n gebalanseerde dieet veroorsaak kanker nie – geen enkele kos veroorsaak kanker nie. Dit sê ook nie dit is net so gevaarlik soos rook nie. Ja, ’n langdurige hoë-vleis-dieet is nie besonder goed vir jou nie. Maar ’n steak, spektoebroodjie of worsbroodjie ’n paar keer ’n week is waarskynlik nie veel rede tot kommer nie,” sê die organisasie.

Prof. Hettie Schönfeldt van die Universiteit van Pretoria se instituut vir kos, voeding en welstand en ’n kenner op die gebied van diereprodukte in die mens se dieet, sê kanker is ’n ingewikkelde probleem wat nie opgelos kan word deur een spesifieke produk of voedselgroep die skuld te gee nie.

’n Groot langtermynstudie aan die Universiteit van Oxford in Engeland het volgens haar onlangs geen verskil gevind in die voorkoms van kolorektale kanker tussen vleiseters en vegetariërs nie. Volgens die IARC se Wêreldkankerdatabasis van 2012 is kolorektale kanker die derde algemeenste kanker onder Suid-Afrikaanse mans en die vierde algemeenste kanker onder vroue.

Louise van den Berg, senior lektor in die Universiteit van die Vrystaat se departement voeding- en dieetkunde, sê die aanbeveling vir die algemene bevolking is om minder rooivleis te eet, maar nie om dit uit te skakel nie. “Dit het weer ander gesondheidsvoordele.”

So werk dit
) Rooivleis: 
Volgens Cancer Research UK is rooivleis enige vleis wat ’n donkerrooi kleur het voordat dit gaargemaak word, onder meer bees-, skaap- en varkvleis.
) Verwerkte vleis: 
Verwerkte vleis is enige vleis wat nie vars verkoop word nie, maar gedroog, gesout, gerook of andersins gepreserveer is, sê ­Cancer Research UK. Dit raak nie maalvleis nie. 
Die IARC noem worsrolletjies, ham, blikkies vleis en biltong as voorbeelde hiervan. 
) Hoe dit kanker veroorsaak: 
Navorsers probeer nog uitpluis hoe rooi- en verwerkte vleis liggaamselle kankeragtig laat word, volgens Cancer Research UK. 
’n Chemikalie in rooivleis, hematien, word in die dermkanaal afgebreek tot N-nitroso-verbindings, wat die selle in die dermwand beskadig. 
Verwerkte vleis bevat chemikalieë soos nitriet-preserveermiddels wat ook N-nitroso-verbindings in die derms vorm.
Wanneer vleis teen ’n hoë temperatuur gaargemaak word, soos deur dit te braai, kan chemikalieë ook in die vleis gevorm word wat die kankerrisiko kan vergroot.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.