Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Hospitaal open in Helderberg
Die splinternuwe privaathsopitaal BusaMed Paardevlei in Somerset-Wes is gister amptelik geopen en beskik oor 100 beddens. Foto’s: leánne stander
Dr. Diliza Mji, voorsitter van die Busamed-privaathospitaalgroep, wys gister aan Philisiwe Mthethwa, uitvoerende hoof van die Nasionale Bemagtigingsfonds, in een van die nuwe hospitaal se kamers rond.

SOMERSET-WES. – ’n Ultramoderne nuwe private hospitaal, die eerste van ’n hospitaalgroep in swart besit, het pas sy deure in die Helderbergkom geopen.

Die hospitaal, BusaMed Paardevlei, is teen R410 miljoen op die landgoed Paardevlei gebou.

Die hospitaal beskik oor 100 beddens, moderne toerusting en het onder meer ’n mediese, chirurgiese en pe­diatriese saal, algemene en hoësorg-eenheid, ’n trauma-sentrum wat 24 uur per dag oop is, vier moderne operasieteaters, ’n kraamsaal en ’n neonatale hoësorgeenheid én patologie- en radiologiedienste.

Die hospitaal aanvaar reeds sedert 4 Mei pasiënte, maar is gister amptelik op ’n spoggeleentheid met minstens 200 genooide gaste bekend gestel.

Philisiwe Mthe­thwa, uitvoerende hoof van die Nasionale Bemagtigingsfonds, een van die finansiers, het gesê dit het vier jaar geneem om die droom van dié hospitaal te bewaarheid.

“Ons het dit as ’n unieke, strategiese geleentheid gesien.

“Nóg drie hospitale in onderskeidelik Johannesburg, Harrismith en Bloemfontein is in verskillende fases van ontwikkeling,” het Mthethwa bekend gemaak.

Volgens Mthethwa sal al vier hospitale saam oor 1 000 beddens beskik en nagenoeg 3 000 werksgeleenthede skep.

Pasiënte se beddens kan in al die hospitaalkamers gedraai word sodat hulle die uitsig oor die Helderberg kan geniet. In die pediatriese saal is daar twee speelkamers vir kinders – een binne en een buite. Die kraamsaal beskik ook oor twee vertrekke waar moeders in privaatheid kan borsvoed.

Dr. Nomafrench Mbombo, minister van gesondheid in die Wes-Kaap, het gesê sy is opgewonde oor die nuwe hospitaal en die druk wat dit in die provinsie kan verlig. – Samantha van den Berg

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.