Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Jongmense ‘loop die grootste risiko om uit te brand’

JOHANNESBURG. – Werknemers in hul twintigs loop die grootste risiko om uit te brand, is bevind in ’n studie van Afriforte, die kommersiële afdeling van die WorkWell-navorsingseenheid by die Noordwes-Universiteit se fakulteit vir ekonomiese en bestuurswetenskappe.

’n Ontleding van data van meer as 33 000 werknemers in Suid-Afrika het gevind 17% van mense tussen 20 en 29 jaar oud toon ’n ernstige risiko van uitbranding.

Dit neem af met die daaropvolgende dekades. Mense in hul dertigs se risiko is 16%, in hul veertigs is dit 15%, in hul vyftigs 14% en daarna 10%. Prof. Ina Rothmann van die navorsingseenheid het gesê “dit is kommerwekkend dat 17% van ons jong werknemers ’n hoë risiko vir uitbranding het, asook 16% van mense jonger as 40 jaar, in die jare wat hulle hul loopbane bou”.

Daar is volgens haar ’n verband tussen uitbranding en gesondheidsrisiko’s soos kardiovaskulêre siektes en hoë bloeddruk.

Dit kan ook tot depressie en angssteurnisse lei en ’n persoon meer vatbaar maak vir verkoue, griep, diabetes en slapeloosheid.

’n Gevoel van gebrek aan beheer, ’n gebrek aan erkenning, onduidelike verwagtinge, onrealistiese spertye en eentonige werk kan tot uitbranding lei.

Administratiewe personeel en sekretaresses loop die grootste risiko om uit te brand.

Hoërisikogevalle ly aan fisieke, kognitiewe en emosionele uitputting, sinisme en spanningsverwante probleme soos spierpyne, slaapprobleme, buierigheid en chroniese moegheid.

Administratiewe werknemers het aangedui hulle werk teen ’n hoë pas, maar dit is herhalend. Tesame met min werksbeheer is dit “ ’n resep om ’n risiko vir uitbranding te ontwikkel”, is in die studie bevind.

’n Gebrek aan geleenthede vir groei, ontwikkeling en bevordering is ook vir talle ’n probleem.

Volgens die ontleding loop 53% van professionele mense, soos medici en ingenieurs, ook ’n groot risiko van uitbranding.

Uitgebrand? Só lyk simptome

Uitbranding gaan hand aan hand met uitputting – emosioneel, fisiek en verstandelik. “Die persoon voel oorweldig, gedaan en betwyfel sy eie vermoë en bydraes. Dit voel asof jy niks meer het om te gee nie,” sê prof. Ina Rothmann.

Iemand wat uitbrand, kan sukkel om besluite te neem en te konsentreer, die heeltyd uitgeput voel en slaap, afgetrokke, sinies en onsensitief wees, emosioneel afgestomp voorkom en niks meer geniet nie.

Hulle sukkel om aan betekenisvolle gesprekke deel te neem, toon ’n afname in produktiwiteit, vermy verantwoordelikheid of stel dit uit, neem risiko’s, oorreageer op netelige kwessies, ooreet, misbruik drank, gee impulsief geld uit, kry gereeld hoofpyn, rugpyn of maagprobleme en sukkel om van griep te herstel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.