Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kanker: Moenie die biltong saam met die badwater uitgooi

Moenie alles glo wat jy lees oor jou gunstelingkos wat dalk kanker veroorsaak nie.

Dieetkundiges en mediese kenners het by navraag gesê hoewel geldige studies oor kankerwekkende stowwe vir die publiek nuttig is, mense dit as ’n riglyn moet gebruik, eerder as om drastiese veranderinge in hul dieet te maak.

Dít volg nadat ’n internasionale mediastorm vroeër losgebars het toe ’n taakspan van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gesê het verwerkte vleis soos ontbytspek, ham en biltong veroorsaak kanker.

Volgens Alex Royal, ’n dieetkundige verbonde aan die Renaissance Body Science Institute in Kaapstad, behoort mense uit dié soort studies te leer, maar eerder by ’n gebalanseerde dieet te hou as om byvoorbeeld alle verwerkte vleis uit te sny.

“Die meeste studies soos hierdie kan nie alle faktore wat tot kanker lei in berekening bring nie en stel dit ook uitdruklik in hul bevindinge so,” het sy verduidelik.

“Dit sluit byvoorbeeld faktore soos stres en lugbesoedeling in. ’n Mens moet ook goed soos die grootte van ’n studie se steekproef en die geldigheid daarvan in ag neem.”

Prof. Vikash Sewram, hoof van die Afrika Kanker-instituut by die Universiteit Stellenbosch, stem saam.

Hy het mense aangeraai om minder vleis te eet en eerder ’n gebalanseerde dieet van vrugte, groente en vesel, saam met gereelde oefening te volg.

Hy het gesê die enigste manier om werklik seker te maak jy verminder jou kanse op kanker tot die minimum, is om nie te rook nie, alkoholinname te verminder en gereeld te oefen.

Royal meen ook Suid-Afrikaners kan meer bekommerd wees oor iets soos oorgewig, wat in die algemeen ongesond is en ook tot kanker kan lei.

“Altesaam 41% van Suid-Afrikaanse vroue is oorgewig en 21% van mans,” het sy gesê. “Oorgewig gaan met verskeie gesondheidsprobleme gepaard en impliseer dikwels dat mense te veel sout en suiker eet en onaktief is.”

Volgens die navorsingsagentskap Cancer Research UK kan te veel vet in die liggaam skadelike gevolge hê soos om hormone te vervaardig wat die manier wat ons selle funksioneer, beïnvloed. Kankersoorte wat met oorgewig verband hou, sluit in kanker van die slukderm, pankreas en niere.

Mites oor voedselprodukte wat kanker veroorsaak doen gereeld die rondte. Wat is waar en wat nie?

¦ Kunsmatige versoeters: ’n Studie wat gevind het dat die bestanddeel saggarien kanker in rotblase veroorsaak het, het daartoe gelei dat versoeters met dié bestanddeel in die 1980’s in Kanada verban is. Daar is intussen bevind saggarien lei slegs tot kanker by rotte, en nié by mense nie.

¦ Slaptjips en aartappelskyfies: Navorsing in 2002 in Swede het gevind daar is hoë vlakke van akrielsuur in styselkosse wat teen hoë temperature voorberei word. Dié chemikalieë is bekend daarvoor dat dit kanker veroorsaak deur DNS te beskadig. Latere studies het egter bewys daar is gans te min akrielsuur in dié produkte om kanker te veroorsaak.

¦ Mikrogolf-springmielies: ’n Persepsie bestaan lank reeds dat springmielies wat in die mikrogolf gespring word, kanker veroorsaak. Hoewel daar geen bewyse hiervoor is nie, is daar wel ’n verband gevind tussen die kleefvrye lagie aan die binnekant van die pakkie waarin die sprinmielies is, en lewer- en prostaatkanker.

¦ Water in plastiekbottels: Talle webtuistes waarsku teen die herhaaldelike gebruik van plastiekbottels, of om dit te gebruik nadat dit in die son gelê het of gevries was. Wetenskaplikes sê egter daar is geen bewyse wat plastiek met kanker verbind nie.

Bronne: Cancer Research UK; Livestrong.com


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.