Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Kanker skuil in spek en biltong

Verwerkte vleis soos ham, biltong en spek veroorsaak kanker, en rooivleis waarskynlik ook.

’n Taakspan van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het verwerkte vleis Maandag amptelik as karsinogenies vir mense geklassifiseer – in dieselfde klas as tabakrook, asbes en lugbesoedeling.

Die bevinding is gegrond op ’n groot hoeveelheid data waarin ’n konsekwente verband tussen kolorektale kanker en die eet van verwerkte vleis gevind is. Die taakspan klassifiseer rooivleis as “waarskynlik karsinogenies vir mense”. Dit word ook met kolorektale kanker verbind.

22 wetenskaplikes van tien lande het vandeesmaand by die WGO se internasionale agentskap vir kankernavorsing in Frankryk vergader om meer as 800 epidemiologiese studies te ontleed.

Die meeste van die data het betrekking op kolorektale kanker. Die navorsers het bevind ’n mens se risiko om kolorektale kanker te kry neem met 17% toe vir elke 100 g rooivleis wat per dag geëet word en met 18% vir elke 50 g verwerkte vleis per dag. ’n Verband is gevind tussen rooivleis en pankreas- en prostaatkanker en tussen verwerkte vleis en maagkanker.

Prosesse om vleis se geur te versterk of dit te preserveer, soos om dit te sout, te droog of te rook, kan lei tot die vorming van karsinogeniese chemikalieë, luidens ’n opsomming van die IARC se bevindings in The Lancet.

Vleis wat teen ’n hoë temperatuur verhit is, gerook is of op ’n warm oppervlak of oop vlam gaargemaak is, bevat chemikalieë wat DNS-skade aanrig.

Die verslag omskryf hoë rooivleis-inname as 300 g tot 420 g per dag. Wêreldwyd eet mense gemiddeld 50 g tot 100 g rooivleis per dag. Die Suid-Afrikaanse dieetriglyne is dat ’n mens nie meer as 560 g rooivleis per week (ongeveer 80 g tot 90 g per dag) eet nie.

Prof. Michael Herbst van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) sê hulle waarsku die publiek reeds geruime tyd om minder rooivleis te eet en om so min moontlik verwerkte vleis te eet.

Kansa raai mense aan om nie hul vleis goed gaar te eet nie, nie erge gebrande dele te eet nie en vleis stadiger by ­laer temperature gaar te maak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.