Prof. André van der Merwe, hoof van die Universiteit Stellenbosch se urologie-afdeling.
Foto: EDREA DU TOIT
Die span dokters wat in die Tygerberg-hospitaal die wêreld se eerste penis suksesvol oorgeplant het, word oorval met versoeke van mans wat ook die operasie wil ondergaan.
Talle mans bied ook aan om skenkers te word.
“Ons het nie so ’n groot reaksie verwag nie, maar ons is bly oor die blootstelling,” het prof. André van der Merwe, hoof van die urologie-afdeling van die Tygerberg-hospitaal, gesê.
Volgens hom sal hulle eers ’n kostebepaling met doen om vas te stel of die hospitaal nog so ’n operasie kan bekostig en of hulle by die regering of elders om finansiering moet aanklop.
As deel van die studie is nog nege mans wat hul penisse verloor het weens tradisionele besnydenisse wat skeefgeloop het reeds sedert 2010 op die waglys vir ’n penisoorplanting.
Volgens Van der Merwe was die grootste struikelblok tot dusver om gewillige skenkers te kry.
Lees ook: Penis oorgeplant: Pasiënt 'glimlag breed'
“Die families van potensiële skenkers was lank onwillig om hul geliefdes sonder ’n penis graf toe te stuur,” het hy verduidelik. “Ek het besef ons sal iets moet doen om die waardigheid van die mense te bewaar. Ons het toe aangebied om ’n penis uit vel van die skenker se buikwand te maak. Dit was deurslaggewend.”
Voorbereiding vir die volgende pasiënt sal binne die volgende drie tot ses maande begin.
“Ons is uiteraard afhanklik van skenkers,” het Van der Merwe gesê.
’n Skenker moet dieselfde bloedgroep en genetiese materiaal as die ontvanger hê. Weens die skaarsheid van skenkers tot dusver word die ontvanger ook daarop voorberei dat ’n skenker dalk ’n ander velkleur as hy sal hê. In so ’n geval kan die vel later met die pasiënt se eie binnebeenvel vervang word en die geslagsklier kan getatoeëer word.
Hy het bygevoeg dat die 21-jarige man wat in Desember die wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting ondergaan het ondanks wêreldwye media-aandag steeds meer as tevrede met die uitslag van die operasie is.
Sy identiteit word om etiese redes beskerm.
Hy is reeds uit die hospitaal ontslaan en het die volle werking van sy geslagsorgaan.
“Ek het sedert die nuus gebreek het weer met hom gepraat om seker te maak dat dit steeds goed gaan,” het Van der Merwe gesê.
“Hy is steeds baie gelukkig en tevrede en is in alle opsigte die perfekte pasiënt. Ek kon nie ’n beter uitslag gevra het nie.”
Só het die oorplanting verloop
Toe die skenkerorgaan geoes is, is die hele penis versigtig gedissekteer om bloedvate, senuwees en ander koppelingstrukture heel te hou.
Dit is noukeurig gemerk en tien uur later in die oorplanting aan die ontvanger se ooreenstemmende weefsel geheg.
’n Bloedvat is van die pasiënt se laer abdomen herlei na die perineum, waar dit aan die nuwe penis geheg is. Die chirurge het drie bloedvate geheg (elk tussen 1 mm en 2 mm in deursnee) om seker te maak dat daar genoeg bloedvloei na die oorgeplante gaan; twee dorsale senuwees (ook tussen 1 mm en 2 mm in deursnee) om sensasie te herstel; die uretra wat die ontvanger in staat stel om deur die penis te urineer; en die korpus cavernosum wat die pasiënt in staat stel om ’n ereksie te kry.
Die delikate chirugie waarmee die klein bloedvate en senuwees geheg is, is gedoen met behulp van ’n mikroskoop wat gereeld in die Tygerberg-hospitaal vir rekonstruksie ná gevalle van bors-, kop- en nekkanker aangewend word.
Die ontvanger van die orgaan sal vir die res van sy lewe immuunonderdrukkingsmedikasie moet neem om seker te maak dat sy liggaam nie die orgaan verwerp nie.
Só verloop prosedure
Só het die oorplanting verloop
Toe die skenkerorgaan geoes is, is die hele penis versigtig
gedissekteer om bloedvate, senuwees en ander koppelingstrukture heel te hou.
Dit is noukeurig gemerk en tien uur later in
die oorplanting aan die ontvanger se ooreenstemmende weefsel geheg.
’n Bloedvat is van die pasiënt se laer abdomen
herlei na die perineum, waar dit aan die nuwe penis geheg is. Die chirurge het
drie bloedvate geheg (elk tussen 1 mm en 2 mm in deursnee) om seker te maak dat
daar genoeg bloedvloei na die oorgeplante gaan; twee dorsale senuwees (ook
tussen 1 mm en 2 mm in deursnee) om sensasie te herstel; die uretra wat die
ontvanger in staat stel om deur die penis te urineer; en die korpus cavernosum wat die pasiënt in staat
stel om ’n ereksie te kry.
Die delikate chirugie waarmee die klein
bloedvate en senuwees geheg is, is gedoen met behulp van ’n mikroskoop wat
gereeld in die Tygerberg-hospitaal vir rekonstruksie ná gevalle van bors-, kop-
en nekkanker aangewend word.
Die ontvanger van die orgaan sal vir die res van
sy lewe immuunonderdrukkingsmedikasie moet neem om seker te maak dat sy liggaam
nie die orgaan verwerp nie.